Reg om die wêreld en nog ‘n paar duisend kilometer verder op paaie dwarsoor Suid-Afrika is die afstand wat fietsryer Johan Oosthuizen ongelukvry getrap het. Toe, op sy tuisdorp Kariega, op pad huistoe na ‘n vroegoggend oefensessie, tref ‘n voertuig sy fiets en so byna was dit bokveld toe met hom.
Die ongeluk het op Saterdag, 16 April omstreeks 09:30 in Caledonstraat skuins oorkant KFC teen die opdraende gebeur toe ‘n VW Caddy Oosthuizen se fiets gestamp het.
“Dit was nogal hectic. Sosiale media het gegons met foto’s en video’s van waar ek in die pad lê. Daar was selfs ‘n boodskap dat ek dood is. Ek was vol bloed van my kop tot tone, maar gelukkig het nie ‘n enkele been in my liggaam gebreek nie,” sê Oosthuizen, area-bestuurder van Monster Energy Drinks.
“Wat met my gebeur het, is meer as ‘n storie, dit is ‘n geloofsbelydenis. My helmet het gebreek toe my kop die teerpad tref, my een fietsryskoen is van my voet afgeskeur, my broek, handskoene en selfs my kouse was geskeur en my fiets is flenters.
“Weens die impak van die ongeluk het my hart amper gaan staan. Die ambulansmense was amazing. In die proses om my hart te skok het hulle my klere oopgesny. Alles van my was stukkend, maar my Huis van Heerlikheid-hemp wat ek aangehad het ter ondersteuning van die kruislopers, het nie ‘n skeurtjie of krapmerk op nie. Hoe is dit vir protection!”
Volgens Oosthuizen beloop die skade aan sy fiets sowat R50 000.
Oosthuizen self is goed aan die herstel en het nog kneusplekke en rowe regoor sy lyf.
“Ek is al ‘n paar keer gevra wie het jou so gem#@r? Dan sê ek ‘jy moet sien hoe lyk die ander ou’. My lyf, veral my spiere, is nog seer, ook my voet en dit is moeilik om ‘n skoen aan te trek. Maar ek lewe!
“Vir nou is dit eers control alt delete om myself te restart. Dan sal ek wéér op my fiets klim. Nou wil ek eers 100% herstel,” sê Oosthuizen.
Dié langafstand-fietsryer en lid van Fuel on Wheels en Monster Care se laaste langpad in die saal vir liefdadigheid was vir Rhyno Olivier.
Oosthuizen het vanaf Kimberley na Ka-riega gery en die 740km in 30 ure voltooi om te help geld insamel sodat Rhyno ‘n retina-oorplanting kan kry. Van sy vorige langafstandroetes sluit in Kariega na Johannesburg en van Johannesburg na Durban. Hy het ook erkenning geniet vir ‘n wêreldrekord deur 365 dae aaneen elke dag 100km op sy fiets te trap.



