Dié trop beeste wei al vir meer as ‘n week in die Daniel Pienaar-rylaan area. Een van dié trop het ‘n ongeluk veroorsaak toe die bees voor Delario Taylor se motor ingeloop het.

Foto: Heilie Combrinck

Skaars vyf dae nadat ‘n inwoner van Kariega in ‘n ongeluk met ’n bees in die besige Daniel Pienaar-rylaan betrokke was, het nóg ‘n rondloperbees ‘n ongeluk, dié keer op die Rocklands-pad, veroorsaak. Die motorfietsryer en die rondloperbees is dood in die ongeluk.

Delario Taylor wat verlede week ‘n bees in Daniel Pienaar-rylaan getref het toe dit voor sy motor ingestap het, is ontsteld omdat niemand verantwoordelikheid vir rondloperbeeste neem nie.

“Die munisipaliteit se veebeheer kry jy óf nie in die hande nie, óf hulle het nie ‘n voertuig nie. Op hulle kan nie gereken word om die beeste te verwyder nie. Dit is ‘n lewensgevaarlike situasie vir alle motoriste.

“Die beeste is ook nie gebrandmerk soos vereis deur die wet nie. Miskien is dit tyd dat die munisipaliteit verantwoordelik gehou moet word vir skade en lewensverlies omdat daar geen beheer oor die loslopende beeste in strate en op paaie is nie.”

Volgens Delario was dit een van die trop beeste wat al langer as ‘n week langs Daniel Pienaar-rylaan, op die middelman, by Strelitzia-dam en in die veld oorkant Hoërskool Streltizia wei, wat verlede week byna sy motor afgeskryf het.

“Dit was laatmiddag met die son sleg van voor, reg in my oë, toe ek skielik die bees voor my in die pad sien.

“Ek kon nie uitswaai nie en het dit getref. Die bees se kop het my windskerm stukkend gestamp.

“Die bees het geval, maar opgestaan en wéér voor die karre ingestap na die oop stuk veld langs die pad,” sê Delario

Volgens Delario was hy alleen in die motor, maar indien daar ‘n passasier in die motor was, kon die ongeluk moontlik ernstig gewees het omdat die bees se kop die passasierskant van die voorruit getref het.

“Die bees het seergekry en was kruppel. Die Uitenhage Dierebeskermingsvereniging was op die toneel en het gesê hulle wag vir ‘n veearts wat die bees sal ondersoek om te bepaal wat om daarmee te doen.”

Volgens Delario was die bees wat voor hom ingeloop het nie gebrandmerk nie, maar op ‘n oorplaat was die letters “DX” geskryf. Daar was ook geen beeswagter te sien nie.

Motorfietsryer sterf nadat hy bees tref

In ‘n ander voorval met ‘n rondloper bees, is motorfietsryer Quinton van Jaarsveld van Kariega dood nadat hy Vrydagaand omstreeks 19:00 op die R334 Rocklands-pad naby die KwaNobuhle-afdraai teen ‘n bees vasgery het.

Dié bees met ‘n oorplaatjie wat “DX” gemerk is het ‘n ongeluk in Daniel Pienaar-rylaan veroorsaak. Daar word gesoek na die eienaar van die bees.

Quinton van Jaarsveld het Vrydagaand gesterf nadat hy met sy motorfiets teen ‘n bees op die Rocklands-pad vasgery het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article