DAAR rus dag en nag ’n groot verantwoorde-likheid op die skouers van gesondheidswerkers te midde van die COVID-19 pandemie, en om hierdie aardsengele te bedank, het Hoërskool Despatch se senior raad van leerders geld ingesamel om bederfpakkies aan 500 gesondheidswerkers by onderskeidelik die Netcare Cuyler Hospitaal en Uitenhage Provinsiale te oorhandig.
Die leerders het ’n groot poging aangewend met blikskud, die verkoop van kopbande en dankbaarheidsblare wat aan ‘n dankbaarheidsboom geplak is.
Daar is ook ‘n sivviedag gehou waar leerders R10 kon betaal om soos ’n gesondheidswerker aan te trek.
Die geld wat daarmee ingesamel is, is gebruik om die 500 bederfpakkies vir die gesondheidswerkers te koop.
“Hoërskool Despatch betuig hul dankbaarheid teenoor alle gesondheidswerkers vir hul onbaatsugtige diens aan mense in COVID-19 nood in die gemeenskap,” lui die skool se verklaring.


