Elize Haarhoff Stoltz se huis in Harveystraat op Despatch is werksplek, woekerplek en woonplek tegelyk. Dit is hier waar sy haar bakbesigheid bedryf. En dit is ook hier waar sy haarself in haar kuns verloor.
Met die gebruik van, onder andere, Rotring tegniese tekening penne, skep sy pragtige ingewikkelde geometriese kunswerke. Die simmetriese patrone en konsentriese ontwerpe, wat die struktuur van haar werk uitmaak, herinner sterk aan mandalas, wat verband hou met meditasie in sekere kulture.
Maar Elize werk nie van buite na die middelpunt toe nie. Sy werk van binne na buite: ‘n metafoor vir die manier waarop sy alles in haar lewe aanpak. Sekuur, wel deurdag en met hart en siel.
“Ek het altyd gesê: sit my agter my tekenbord en ek is gelukkig. Maar deesdae doen ek sommer enige ding,” sê Elize.
Soos wat daar ‘n ritme en ‘n harmonie onderliggend aan haar kuns teenwoordig is, is die elke dag se bak ook ‘n herhaaldelike gee-en-neem proses. Soos in alle dinge in die lewe, moet ‘n mens somtyds planne maak om die balans te handhaaf.
Na ‘n lang tyd van alleen werk, het Elize uiteindelik besluit om iemand aan te stel om haar by te staan in die kombuis.
“Nicole is die dame wat nou saam met my werk. Sy is meer as ‘n werknemer. Sy is ‘n vriendin en ek kan nie meer my besigheid sonder haar voorstel nie. Wanneer ek besig is met iets, begin Nicole al die volgende proses aan die gang sit. En sy help my om kalm te bly. Wanneer sy eers Let It Go begin sing, dan is die spanning iets van die verlede en lag ons lekker so tussen die koeke, die terte en die tuisgemaakte lekkergoed deur!”
Die uitdagings van ‘n besigheid bring innoverende idees. Sommiges word uit nood gebore.
“As iets flop, maak ons iets anders daarvan. En iets wat ek uitgevind het is dat daar nie ‘n beter afkoelrak vir ‘n koek as ‘n eierboks is nie! Dink net die fiasko wanneer daar slegs 4 afkoelrakke vir 45 koeke beskikbaar is!”
Elize kombineer haar besigheid vele keer met haar liefde vir sing. Maar sang skep ook ‘n spasie waarin sy haarself kan uitleef.
“Soos my kuns, plaas sang my geheel en al in die oomblik. Jy raak weg in wat jy doen en dink aan niks anders nie. Dit is dieselfde rede hoekom ek dit so geniet om royal icing koekies te versier. Vir daardie oomblikke wanneer jy daarmee besig is, is dit al wat jy doen. Totaal ontspannend.”
Haar ouma was die persoon wat altyd in haar sangvermoë geglo het en die dryfveer agter haar eerste CD was.
“My ouma het my help grootmaak. Ek sê altyd ons naelstringe was aanmekaar vas. Dit was sy wat die eerste R800 gegee het waarmee my eerste CD in die lewe geroep is. Ongelukkig is my ouma oorlede voordat die CD klaar was. Met die opname van my tweede CD het ‘n aangetroude familielid vir my die lied geskryf, Lied vir Ouma. Ek het dit wonderbaarlik reggekry om die pragtige lied een keer te sing vir die opname van die CD, maar ek het dit nog nooit weer by lewendige optredes gesing nie.”
Elize tree gereeld op met plaaslike sangers en het ook al saam met Clive Bruce en Lance James opgetree.
“Ek is seker maar ‘n country girl in my hart,” lag sy. “Ek hou van soveel sangers. Van my gunstelinge is natuurlik Dolly Parton en ook Andriëtte.”
Sy geniet al die fasette van haar lewe, maar op die ou end is haar huis en haar familie haar plek. Met haar man, haar drie honde en haar ouers net om die draai, voel Elize deel van ‘n geheelbeeld.




