Die Uitenhage-gholfklub se bof- en setperke het in die grendelstaat goeie versorging geniet en verskeie verbeterings en opgraderings is aangebring. Die baan is nou weer oop vir gholfspelers. Foto:VERSKAF

VIR 79 dae was die Uitenhage-gholfklub se baan verbode vir gholfspelers, maar in dié tyd het die Olivier-tweelingbroers hard gewerk om elke bof- en setperk op te knap.

Die plaaslike gholfklub moes sy hekke en deure op 16 Maart sluit en geen verdere funskies en gholfdae is toegelaat nie. In die grendeltyd het die Olivier-broers permitte gehad om toe te sien dat die klub se geboue nie geplunder word nie en dat die baan onderhou en opgegradeer word.

“Die baan is nou in ’n uitstekende toestand. Ek en my tweelingbroer Moolman het elke dag op die baan gewerk. Ons het nuwe paadjies gemaak, bankies geverf, bome gesnoei en die gras versorg,” sê Morris Olivier, bestuurder van die Uitenhage-gholfklub.

“Nou is dit net vir ons gholfers om weer die vryheid te kom geniet om hier gholf te kom speel en die klub te ondersteun.”

Spesiale tariewe geld nou ook vir nie-lede om op die Uitenhage-gholfbaan ’n potjie gholf te gaan geniet.

Die klubhuis, kroeg en onthaalsaal, wat alles bykomende bronne van in-komste vir die klub is, bly egter steeds gesluit.

Dit plaas groot finansiële druk op die klub, aangesien geeneen van die personeel sedert die begin van die grendelstaat ’n salaris ontvang het nie. Hulle is afhanklik van die werkloosheidsversekeringsfonds se uitbetalings, waarvan hulle nog geen betaling vir Mei ontvang nie.

“Ons grootste probleem wat onderhoud van die baan betref is steeds die tekort aan herwonne water. Vir maande lank kry ons nie ’n druppel van dié water wat bestem is om gebruik te word vir die bof- en setperke nie.

“Maar ons is bly hier kan nou weer gholf gespeel word.

“Nou hoop ons vir goeie reën en om gholfspelers hier te ontvang om ons opgeknapte baan te kan kom geniet,” sê Olivier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article