Duisende brawe mans regoor die land gaan op Vrydag 13 Oktober in hul pers speedo’s deelneem aan die jaarlikse Hollard Daredevil Run.
Hierdie pretdraf het egter ’n groter oogmerk, naamlik die bewusmaking van testikulêre- en prostaatkanker.
Die 2022 Hollard Daredevil Run het duisende deelnemers van elke uithoek van die land gelok om op meer as 450 plekke deel te neem. Tydens die byeenkoms moet mans 5km hardloop, geklee in slegs ’n pers speedo. Sodoende word stereotipes oor manlike kankers uitgedaag en begin gesprekke oor die begrip van prostaat- en testikulêre kanker, hoe om kankerrisiko te verlaag en hoe om dit vroeg op te spoor.
Die verteenwoordigers van Hollard kon ’n totaal van R700 000 aan die Kankervereniging van Suid-Afrika en die Prostaatkankerstigting van Suid-Afrika oorhandig, danksy die 2022 deelname.
Die fondse wat ingesamel word, gaan vir die bewusmaking van prostaat- en testikulêre kanker, sowel as verhoogde siftingsinisiatiewe.
Andrew Oberholzer, HUB van die Prostaatkankerstigting van Suid-Afrika, het in ’n persverklaring van Hollard Daredevil Run gesê, “Een van die grootste uitdagings wat ons in die gesig staar, is dat prostaatkanker-sifting nie maklik vir baie Suid-Afrikaanse mans beskikbaar is nie, alhoewel ’n eenvoudige bloedtoets, wat ’n PSA-toets genoem word, kan help om die siekte te identifiseer. Befondsing van die Hollard Daredevil Run kan moontlik lewens red. As dit vroeg opgespoor word, het mans ’n 95%-kans om van prostaatkanker genees te word.”
Die Klippendales en hulle pom-pom meisies van Despatch Atletiek Klub gaan ook vir die derde agtereenvolgende jaar deelneem aan die Hollard Daredevil Run, en soos in die vorige jare beoog hulle om die strate van Despatch pers te tooi met die manne.
Dié dapper manne het reeds in 2022 die hoogste bedrag ooit vir manlike kankerbewustheid ingesamel.
Die roete begin 14:30 vanaf Frans Claassenstraat, regs in Bothastraat, deur Hoofstraat tot by Klinicare Despatch, waar hulle ’n tjek aan die drawwers gaan oorhandig. Hulle draf dan verder in Hoofstraat en maak ’n u-draai regoor Môresonstraat. Hulle gaan regs in Stasiestraat, om Despatch Superspar tot in die parkering waar hulle nog ’n tjek van Dormehl Phalane Property Group gaan ontvang.
Daarna gaan hulle deur Dr Rabiestraat regs in Hoofstraat terug van waar hulle begin.
Die manne in hul pers speedo’s sorg elke jaar vir groot entoesiasme van ondersteuners. Kyk gerus uit vir hulle op die roete op Vrydag 13 Oktober vanaf 14:30.


