Vir Anita Volschenk van Despatch, diereliefhebber en versamelaar, is die maak en restourasie van poppe een van die groot vreugdes in haar lewe.
Elke pop wat op haar werktafel beland is ’n suksesstorie. Deur haar kreatiwiteit en kunstige vakmanskap blaas sy nuwe lewe in verwaarloosde speelgoed en skep en herskep sy een na die ander unieke pop op ’n slag.
Dit is op hierdie manier dat Anita gestalte gee aan die nostalgie van popspeel, haar liefde vir kinders en die bittersoet herinneringe aan haar kindertyd. Anita se belangstelling in poppe kom – soos vir die meeste mense – al van kleintyd af aan, maar haar liefde vir poppe het haar reg deur haar lewe bygebly.
“Ek het steeds my Baby Angel pop, my heel eerste splinternuwe babapop wat ek as ’n kind gekry het,” vertel sy, maar dit is maar net een van die vele poppe wat deel uitmaak van haar uitgebreide persoonlike versameling.
Die selfaangeleerde, praktiese vaardighede en tegnieke wat sy aan die dag lê het tot gevolg dat die poppe wat sy regmaak keer op keer opnuut onder haar hande tot hul vorige glorie herstel word.
Sy werk fyn en sekuur en die liefde en deernis waarmee sy haar opknappingswerk doen, skemer sterk deur wanneer sy oor haar stokperdjie gesels.
“Wanneer ek aan ’n pop werk is dit amper asof ek vir ’n persoon ’n nuwe lewe gee.”
Sommige poppe ondergaan inderdaad ’n merkwaardige gedaanteverwisseling.
“Eerstens, voordat ek begin, haal ek die pop heeltemal uitmekaar, was en maak al die stukkies deeglik skoon, sorteer en begin dan stuk vir stuk regmaak, een pop op ’n slag.”
Anita werk aan porseleinpoppe en poppe gemaak van selluloïed, vroeë sintetiese plastiek, wat dateer vanuit 1900 tot en met die 1950s. Sy het ook al composition poppe gerestoureer – bestaande uit houtsaagsels en gom – wat gedurende 1920–1940 vervaardig en verkoop is, sowel as plastiek Kewpie poppe.
“Dit is ’n hele proses om byvoorbeeld porseleinpoppe reg te maak. Soms gee mense my die pop in stukke of ek bestel popledemate uit Pretoria. Ek gebruik lugdroë modelleringsklei om plekkies op te vul en krake reg te maak. Somtyds is dit nodig om spuitskuim te gebruik om ledemate mee op te vul. Daarna werk ek die oppervlak af tot dit mooi glad is. En dan word daar geverf en die oppervlak vernis vir beskerming en ’n gladde tekstuur.”
“Wanneer dit kom by die composition poppe is dit ook ’n redelike proses. Oor die jare heen in party gevalle raak dié poppe se houtlyfies bros en is geneig om te kraak. In daardie geval moet ’n mens eers die verflaag afhaal en soms ’n paar keer opvul waar nodig. Ek gebruik ’n verseëlaar, industriële gom en vernis met ’n glansafwerking, wat diepte gee en die warmte van die kleure uitbring.
Dit is duidelik dat niks Anita se aandag ontgaan nie. Die sleutel tot sukses skuil baie maal in die details en die fyner besonderhede.
“Ek koop ook die hare, ogies, wimpers en wenkbroue aan. My man het vir my ’n klein stukkie gereedskap gemaak wat ek gebruik om die ogies en van die ander los items mee in te sit.”
Menige male maak Anita nuwe klere vir die poppe en ander bykomstighede, maar die hekel- en breiwerk los sy vir ’n vriendin van haar.
“Ek sal myself so vasknoop in die wolle dat ek sal moet stoei om myself daar uit te kry,” lag sy.
Anita se versameling en handewerk dien as ’n konneksie met ander. Vriende en familie is altyd op die uitkyk vir interessanthede vir haar en sy put inspirasie uit ander se versamelings, advies en wenke. Deur die jare het sy al heelwat van haar poppe aan spesiale mense geskenk, soos haar eerste Reborn pop wat sy aangeskaf en later aan ’n vriendin gegee het.
In vandag se moderne era, gekenmerk deur ’n weggooimentaliteit, is dit verblydend om mense te ontmoet wat nuwe lewe gee aan ou items en ’n spesiale verhouding smee met die materiale en items waarmee hul werk. Met vaardigheid, sorg en eindelose geduld, bring die vele transformasies wat sy teweeg bring nuwe moontlikhede en kring uit op allerlei positiewe maniere.
“Somtyds sien ek my werk met die poppe as troospryse vir die verliese in ’n mens se lewe.”
En so bring Anita se handewerk terapie – vir haarself, sowel as vir ander – en daaruit spruit keer op keer nuwe hoop.





