Hier is ‘n paar van die 270 motors wat by die Concept Crew Motorskou was.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Die Alles op Wiele Motorskou wat onlangs ter viering van Concept Crew Motorsklub se 10de bestaansjaar op Despatch gehou is, het alle verwagtinge oortref met sowat 2 500 besoekers op dié dag!

‘n Totaal van 270 rare, spoggerige, klassieke en kragtige motors, motorfietse en driewiele is geskou.

“Ek is oor-die-maan gelukkig, aangenaam verras, en opgewonde dat alles so goed afgeloop het. Die mense kon nie glo wat se groot verskeidenheid motors daar was nie en het gesê dat hulle baie van die motors nog nooit gesien het nie,” sê Pierre Janse van Rensburg, stigterslid en voorsitter van Concept Crew Motorklub.

“Dankie aan die publiek. Hulle ondersteuning was uitstekend, en so-ook die ondersteuning van die groot hoeveelheid nie-klubverbonde mense wat hulle motors blink-gepolitoer hier uitgestal het. Baie dankie ook aan hulle vir hul deelname.

“Die algemene terugvoering is goed, ons borge is gelukkig, en dit lyk of alles daarop dui dat ons volgende jaar weer so gaan maak.”

Lede van die oudste motorklub in die land, die Queenstown Motorklub, het met tien motors ‘n draai by die skou gemaak en daar was ook motors van die Jeffreysbaai Motorklub, Road Runners van Despatch, The Knights of the 3rd Wheel, Oudtshoorn, Eastern Province Vintage Car Club, sowel as motors vanaf Oudtshoorn en Oos-Londen.

Volgens Pierre was die sirkeluitleg waarin motors geparkeer is ‘n goeie plan.

“Die motors is soort-by-soort in ‘n sirkel geparkeer en dit het besigtiging en die vloei van besoekers vergemaklik. Die Anglia-sirkel was jaartalgewys volledig. Dan was daar ook sirkeluitstallings van Escorts, Cortinas en in die middel was daar ‘n sirkel met ses Mustangs.”

Volgens Pierre was die motor wat sy kop die meeste laat draai het, ‘n 1935 Packard van Wouter Myburgh. Dié kragtige veteraanmotor het vroeër jare aan Theo van Theo’s Motor Spares op Despatch behoort.

Die 1935 Packard van Wouter Myburgh het vroeër jare aan Theo van Theo’s Motor Spares op Despatch behoort.

“Tydens die gelukkige trekkings aan die einde van die skou het ons die publiek gevra of ons volgende jaar weer die motorskou moet hou en die terugvoering was oortuigend ‘ja’.

“So, nie lank van nou af nie, gaan ons moet koppe bymekaarsit en begin beplan aan ‘n nog beter en groter Alles op Wiele Motorskou op Despatch,” sê Pierre.

  • Vir meer inligting oor Concept Crew of die Alles op Wiele Motorskou bel Pierre by 068 272 4177.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article