“DWELMGEBRUIK in die Kamesh-area op Uitenhage neem toe. Selfs laerskoolleerders word nou vasgevang in dié greep van verslawing.”
Só sê Dolores de Vos, voorsitter van die Turning Point Development Centre wat by die Kamesh polisiestasie gevestig is.
Die sentrum doen bewusmaking oor die gevare van dwelmgebruik sowel as berading- en motiveringsessies vir verslaafdes én getraumatiseerde familielede.
Hulle besoek ook skole om met leerders oor die gevare van dwelms te praat.
“Ons word oorval deur mense wat aan-klop vir hulp omdat hulle nie weet hoe om hulle kinders of ander familielede, wat dwelmverslaafdes is, te hanteer nie,” sê Dolores, wat ’n seun aan die dood afgestaan het weens sy dwelmgebruik.
“Ek het ook nie geweet hoe om my kind se verslawing te hanteer nie.
“Dit was hel. Hy het my hart gebreek.
“Op 28-jarige ouderdom het hy gesterf as gevolg van dwelms.
“Sy oë moes toegaan sodat ek tot die besef kon kom hoe om ander se oë oop te maak vir die verskrikking van dwelmverslawing.”
Turning Point vrywilligers word deur al meer ouers gevra om tuisbesoeke te doen om met hulle kinders te praat oor die gevare van dwelmgebruik en die vernietigende gevolge van verslawing.
Die sentrum werk hand-aan-hand met die Kamesh Victim Support Centre, waarheen hulle familielede verwys wat slagoffers van geweld en mishandeling word weens ander familielede se dwelmgebruik.
“Wat dié sosiale euwel vererger, is dat daar slegs een staatsgesubsidieerde rehabilitasiesentrum in die Oos-Kaap is.
“Dit is Fort England in Makandha, wat stampvol is,” sê Dolores.
“Ons help waar ons kan en bied ses-weeklikse konsultasies aan vir verslaafdes wat skoon wil kom. Maar as die ses weke verby is, is daar nie verdere intensiewe hulp vir hulle nie.”
Samantha Pearce, ’n vrywilliger betrokke by Turning Point sê, “Dit is belangrik om agter te kom wat die kernrede is hoe-kom ’n persoon dwelms begin gebruik.
“As dit geïdentifiseer word, kan ’n mens die pad stap met iemand wat wíl rehabiliteer.
“Ons help ouers, want hulle weet nie hoe om ’n kind te hanteer wat verslaaf is nie. Om kwaad te raak en te baklei, gaan nie help nie.
‘My keuses het my lewe vernietig’
Bevan Wilson, eens self ’n verslaafde wat by die dood omgedraai het weens sy leefstyl, is betrokke by Turning Point as ’n vrywillige berader.
Hy sê hy wil verslaafdes help om by die keerpunt in hulle lewe te kom.
“As ’n verslaafde gehelp wil word, moet hy of sy eerlik wees met hom- of haarself en die berader.
“Daar is altyd ’n rede hoe-kom jy met dwelms begin, maar ’n verslaafde ontken altyd dat hy of sy ’n probleem het.
“My keuses het my lewe vernietig. Ek was vir tien jaar in die tronk. Ek het alles verloor. Maar die pad wat my vrou geloop het, het uiteindelik tot my redding bygedra.”
Destony Grobbelaar kén die hartseer van ’n ouer wanneer ’n kind vasgevang is in dwelms, daarom help sy ook vrywilliglik by Turning Point.
“Tough Love is wat ’n ouer moet toepas as jou kind ’n verslaafde is. Dit is baie moeilik, maar jy moet sterk staan,” sê Destony.
“Ongelukkig is daar te veel ouers wat in denial is oor hul kinders se verslawing.
“Hoe langer hulle in denial bly, hoe dieper gaan hul kinders in die verderf en hoe moeiliker word tough love.”
Bevan beaam dit, “Ek kon altyd alles met my ma regkry, tot op ’n dag wat sy haar hart verhard het en tough love toegepas het.
“Ek kon dit nie verstaan nie, maar vandag weet ek hoekom sy dit gedoen het.”
- Turning Point Development Centre is by die Kamesh polisiestasie en hul deure is oop vir die gemeenskap vanaf Maandae tot Donderdae 10:00 tot 15:00.
Vir meer inligting bel 073 360 7176 of 079 999 4599.





