Ben Gerber spog met die harde kopie van ‘Die Duifboer en sy Geveerde Vriende’.

Foto: Anika de Beer

“Die eerste gedagte wat by my opkom ná die versoek om iets te skryf oor ’n oudonderwyser se nuwe boek is ‘Hoekom dan nou nie?’ Toe sien ek waaroor die boek gaan en dit word ‘O gaats, wat weet ek nou van duiwesport?’” Anika de Beer het wel ’n ding of twee daaroor geleer toe sy ’n draai by Ben Gerber gaan maak het om oor sy nuwe boek te gesels.

Dit was vir Ben Gerber ’n historiese oomblik toe hy sy nuwe boek, pas van die drukkers afgelewer, in sy eie hande kon voel.

Hy het in 2011 eendag agter sy rekenaar gaan sit en begin skryf aan Die Duifboer en sy Geveerde Vriende. Sekerlik het hy nooit gedink dit sou dertien jaar wees voor die eerste uitgawe voltooi is nie.

Gerber, ’n inwoner van Despatch en self ’n duiweboer wat gereeld aan wedvlugte deelneem, het ’n begeerte gehad om die geskiedenis van die sport neer te pen saam met die kennis en raad van die duiweboere in die Oos-Kaap voordat dit verlore gaan.

“Die boek is ’n bietjie biografies van aard om ’n storielyn te skep. Maar die klem in die boek val nie op my nie,” het hy vertel. “My visie is om eers al die ouer duiweboere uit te vra oor die sport voordat hulle nie meer met ons is nie, sodat daardie inligting verewig vasgelê is. Die nuwer geslag kan altyd later bykom.”

Gerber is die eerste skrywer van ’n duiweboek in die Oos-Kaap.

Die Duifboer en sy Geveerde Vriende is ook die enigste duiweboek wat in Suid-Afrika in meer as tien jaar gepubliseer is. ’n A4-grootte Afrikaans duiweboek met 99 kleurfoto’s, dis enig in sy soort.

En dit is vir beginner-duiweboere geskryf.

“Die beginners wat leesstof soek, kry dit nie sommer nie. Dit wat daar is, is baie lank terug geskryf en jy sukkel om daai boeke in die hande te kry,” het Gerber gesê.

Buiten sy eie ervaring met die sport, is daar ook gedeeltes in die boek wat handel oor duiwe-veilings, die geskiedenis van die Despatch Posduifklub wat vandag nog bestaan, die jargon wat duiweboere gebruik en sowat 47 profiele van duiweboere in die Oos-Kaap.

Die profiele is een van die redes hoekom Gerber so lank aan die boek geskryf het.

“Ek het duiweboere besoek en vraelyste uitgedeel en hulle uitgevra om my feite reg te kry,” het hy gesê.

Die duiweboere wat hy ondervra het, het staaltjies en wenke met hom gedeel oor hoe om te weet wanneer ’n duif ’n goeie duif is, wat jy moet doen om ’n wedvlug te wen, hoe om wedvlugduiwe te voer en wat ná die wedvlugseisoen kom, om net ’n paar te noem.

“As die beginners mooi tussen die lyne lees, gaan hy genoeg informasie kry om ’n suksesvolle duiweboer te word. Jy kan by elke hoofstuk in die boek iets vir jouself vat en toepas en bietjie eksperimenteer tot dit vir jou werk. Want daar is dalk basiese dinge wat elke duiweboer moet weet en doen, maar daar is nie net een wenresep nie.

“Hierdie boek gaan nie oor kampioen-duiweboere nie. Dit gaan oor die gewone, nederige, kleinskaal duiweboere. Die kampioen-duiweboere wat ook deel van die boek is, is net ’n bonus.”

Gerber, ’n oudonderwyser van die HTS Daniel Pienaar, het selfs ’n hoofstuk in die boek geskryf waar hy vrae wat sy leerders oor duiwesport gevra het, beantwoord.

“Ek wil met die boek iets teruggee vir die duiweboer in die Oos-Kaap. Ek hoop dat beginners ook daaruit kan leer met die doel dat hulle dan nie die sport sal verlaat nie, want dit is ’n kwynende sport. So die boek se verdere doel is om die mense te motiveer om by die sport te bly en ook om tot die sport toe te tree.”

Hoewel die fokus van Die Duifboer en sy Geveerde Vriende hoofsaaklik op die Oos-Kaap en sy duiweboere is, is Gerber vasbeslote dat hy dit verder wil vat.

“Dit is ’n lewenstaak vir my gewees wat nog nie voltooi is nie. Ek gaan die boek vorentoe nog opdateer en ek gaan ook boeke oor duiwesport in ander provinsies skryf as hierdie een ’n sukses is.”

‘Die Duifboer en sy Geveerde Vriende’  is nou een van vier

Gerber het in 2021 as onderwyser afgetree en sy groot visie is nou om voltyds te skryf nadat hy dit vir soveel jare net deeltyds kon doen.

Buiten sy nuutste boek het hy al drie ander geskryf, twee digbundels en ’n jeugverhaal.

“Ek het grootgeword met Trompie en die Boksombende. My begeerte was om vir die moderne jongmense ’n ander weergawe daarvan te gee: Bennie en die Uilbende.”

ben gerber

Twee van Ben Gerber se ander boeke, ’n digbundel en ’n jeugverhaal.

Die jeugverhaal is op ware verhale en gebeurtenisse baseer en handel oor Gerber se stout kinderdae in die ou Southdene en Suideinde.

Die Duifboer en sy Geveerde Vriende is beslis ’n groot verskil van die ander drie, om te skryf én om te lees.

“Dié is my aktiewe stokperdjie. Dis ’n heel ander ervaring. Ek het net begin skryf. Elke keer as ek voor my rekenaar gesit het, het ek gevoel ek is besig met iets mooi; ek is besig met iets mooi en ek kan nie nou terugdraai nie,” het hy van die duiweboek vertel.

Die proses met hierdie boek het hom ook ’n ding of twee geleer. Die duiweboek is self deur Gerber gepubliseer en hy het met moeite tegniese vaardighede aangeleer terwyl hy met sy rekenaar baklei het oor tikkery, bladuitleg en voorblad ontwerp. En om nie te praat van die proeflees nie…

Om ’n kopie van Die Duifboer en sy Geveerde Vriende in die hande te kry, besoek Arthur’s Pet Shop of Van’s Pet Shop in Gqeberha, of kontak Ben Gerber by gerberbernie9@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article