Die Hoërskool Despatch se Kosie en Adamina Smit is onlangs elk met ’n nasionale ATKV Afrikoon-toekenning vereer.
Die ATKV Damestak van Despatch was vir die geselligheid verantwoordelik. Elda Kruger, oorhoofse hoof van takke en ’n nasionale verteenwoordiger van die ATKV, asook Christie Swanepoel, streeksorganiseerder, het die oorhandiging kom doen.
Kosie het die Afrikoon-toekenning vir sy lewenslange bydrae tot die bevordering van kultuur en sy positiewe impak op talle leerders op nasionale vlak, ontvang.
Adamina het dit ontvang vir haar lewenslange bydrae tot die Afrikaanse taal, die bevordering van Afrikaans en haar positiewe impak op talle leerders op nasionale vlak.
Verder is ’n matriekleerder, Janecke Schuin, met ’n plaaslike Klop-op-die-skouer-taktoekenning vereer.
Janecke is vir almal rondom haar ’n inspirasie en ’n toonbeeld van positiwiteit. Sy moes al baie uitdagings te bowe kom, maar doen dit altyd met ’n glimlag.
Janecke komponeer graag en so is daar al ’n netbal- en interskoleliedjie uit haar pen gebore. Sy het die toekenningsaand nóg meer spesiaal gemaak deur vir die Smit-onderwyserpaar ’n liedjie te komponeer en te sing.




