Afriforum het onlangs ’n tak op Uitenhage gestig. Hier is (van links) Arno Greyling (AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid- en Oos-Kaap), Adriaan Niewerth (jeug), Danie Jonck (ondervoorsitter), Tanya-Lee Pienaar (tesourier), Lynette Gouws (omgewingsake), Milinda Ferreira (sekretaresse) en Pieter Avenant (voorsitter). Foto:VERSKAF

NA verskeie versoeke deur die gemeenskap, het AfriForum daaraan gehoor gegee en ’n tak op Uitenhage gestig. Tydens die stigtingsvergadering het Arno Greyling, AfriForum se distriks-koördineerder vir die Oos-Kaap, die organisasie se model en suksesse voorgehou.

Die nuutverkose takbestuur bestaan uit Pieter Avenant (voorsitter), Danie Jonck (ondervoorsitter), Tanya-Lee Pienaar (tesourier), Milinda Ferreira (sekretaris), Adriaan Niewerth (jeug) en Lynette Gouws (omgewingsake).

Tydens die vergadering is daar uitgebrei oor AfriForum se veiligheidsplan en -strukture, asook die voordele daarvan. Dit sluit geakkrediteerde opleiding, toerusting, ’n nasionale netwerk en waardevolle ervaring in.

“Baie dankie aan elkeen wat bereid is om die gemeenskap van Uitenhage te help deur op AfriForum se plaaslike takbestuur te dien. Ons sien uit na die pad vorentoe en om weer eienaarskap te vestig in dié gemeenskap in die pragtige Oos-Kaap,” sê Greyling.

Volgens Pieter Avenant, voorsitter van die Uitenhage Afriforum-tak, is hulle dankbaar teenoor almal wat die moeite gedoen het om by die stigtingsvergadering by te woon.

“Hierdie is ’n stewige fondament waarop ons weer die krag van ’n gemeenskap kan benut tot voordeel van almal,” sê Avenant.

Om by AfriForum se Uitenhage-tak betrokke te raak: sms “Uitenhage” na 45342 (R1 per sms).

(Inligting: Verskaf deur Afriforum)

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article