DIE volgende gewilde Addo Markdag word op Saterdag, 2 Oktober by Elephant House se Wine Bar langs die R335-pad in Addo gehou.
Helga Vermaak, organiseerder van die markdag, sê die idee om so ‘n markdag te hou het ontstaan om die personeel wat in die gastehuis- en toerismebedryf is die geleentheid te bied om ‘n inkomste te verdien.
“Hierdie personeel word diep geraak deur die COVID-19 inperkingsregulasies omdat gastehuise en die toerismebedryf nie soos normaalweg funksioneer nie. Ongelukkig beteken geen gaste, geen inkomste en geen salarisse kan betaal word nie,” sê Helga.
“Daarom wil ons dié personeel die geleentheid gee om ‘n inkomste te verdien. Of dit nou is om by die markdag te help of self ‘n stalletjie te hê en sodoende ‘n inkomste te verdien.”
Van die stalletjies wat by die markdag in Oktober gaan uitstal is: Hi Gorgeous met die TM Plush Toys, Impavidus Group met hul unieke Stand Up Paddle Boards, Mmm Delicious met sjokolade-produkte, Wild Hive Honey, Mooks, Shelby & Sons wat ‘n gin-proe gaan aanbied, OMGosh kleefbroeke, Disselblom uit die Vallei met hul blomklere, Addo Brew Co ook uit die Vallei met hulle eie bier, Let’s Meat vanaf Kirkwood met verskeidenheid wildsprodukte en Studio 218 met handgemaakde oorbelle.
“Ons probeer almal akkommodeer, maar die doel is om ‘n verskeidenheid van produkte te hê en nie duplisering van produkte nie.”
Ander aktiwiteite van die dag sluit in ‘n vertoning deur sanger Karla Gouws van Despatch, ‘n kar-uitstalling, die Suid-Afrikaanse Bloeddiens wat ‘n bloedskenkdag gaan hou en die Waste Trade Company wat sal sorg dat die terrein skoon gehou word. Elephant House bied ook spesiale tariewe vir verblyf aan by hul Stable Cottages.
Toegang tot die markdag is gratis. Besoekers betaal wel ‘n toegangs-geskenkbewys van R20 wat by enige van die stalletjies ingeruil kan word as deel van ‘n transaksie. Dié bewys is deel van die organiseerders se logistiek om die getal besoekers te kontroleer.
Die Addo Markdag, wat sowat 8km vanaf die Addo Olifant Nasionale Park se hoofhek is, word van 09:00 tot 16:00 gehou. Vir meer inligting of om ‘n stalletjie te bespreek, bel 084 731 2580 en vir verblyfbesprekings bel 083 354 0429.



