Hier is van die deelnemers aan die ABBA-aand, lyndansers Michele Condon, Reinet Daniell, Marieta Stander, Santie Mattheus en Tina Hunt (voor) van Tina’s Line Dancers.Foto: VERSKAF


AANHANGERS van die immergewilde musiekgroep ABBA kan Saterdagaand saamsing tydens ’n musiekaand wat in Laerskool Frans Conradie se skoolsaal gehou word.

Die doel van die aand is vermaak, maar ook om terselfdertyd ’n groot verskil te help maak in die gemeenskap.

Mariana Oosthuysen, Solidariteit Helpende Hand se takvoorsitter van Despatch, sê Helpende Hand se Despatch-tak hou hierdie geldinsameling vir hulle studiefonds.

“Dit is mense uit die gemeenskap wat die ABBA-liedjies gaan opvoer en daarom is dit soveel meer pret,” sê Oosthuysen.

“Net soos ABBA se I have a dream, het honderde studente ook toekomsdrome. Kom kuier saam met ons en laat jou dans en sing dié drome help waar word.”

Volgens haar het die tak se Gemeenskap Studiefonds die afgelope ses jaar vyf studente bygestaan met rentevrye studie- lenings ter waarde van byna R199 000.

“Hierdie jaar wil ons nie net die studente wat reeds studeer, verder help nie, maar ook probeer om nog studente uit die Despatch- gemeenskap te help.

Hierdie projek is vir die gemeenskap uit die gemeenskap,” sê sy.

Die ABBA vertonings is om 15:00 en 19:00. Kaartjies is beskikbaar by La Rochelle, Helpende Hand se Ons Winkel en Helpende Hand se taklede in Despatch vir R30 per persoon.

  • Vir meer inligting bel Tania by 082 702 0670.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article