AS hy sy lewe kon oorkies, sou Danie Scholtz van Uitenhage ’n dramaturg of sportkommentator wou wees.
Dié oud-skoolhoof, ’n man van vele talente, se eerste fiksie-boek met die titel Verraad is onlangs deur Reach Publishers uitgegee.
“Ek is mal oor dié twee beroepe, want ek hou van sport en vinnig praat en kon dalk ook ’n vendusieafslaer word, maar dis drama en stories wat my die naaste aan die hart lê,” sê Scholtz.
Verraad is ’n romantiese speurverhaal propvol familie-intriges en ’n liefdesdriehoek wat liederlik skeefloop.
“My inspirasie vir die storielyn het ek gekry van ’n ware lewensdrama wat in Amerika afgespeel het. Ek het dit natuurlik aangepas en dit handel oor ’n ryk Berg-gesin van Somerstrand en allerhande sameswerings om erfgeld in die hande te kry,” sê Scholtz.
“Die grootste gedeelte van die boek speel af op ’n luukse boot op die Middellandse-see en op die Griekse eilande. Ek het deeglike kennis van ’n plesierboot want ek en my vrou het al twee keer die geleentheid geniet om op ’n bootreis te kon gaan.”
In Verraad erf Madri Berg byna niks van haar pa en sy neem daarom wraak teen haar welgestelde ma, Evette.
Om dié planne uit te voer, is haar nuwe liefde, Ron, die ideale makker.
“Ek het so jaar-en-’n-half aan die boek geskryf. Die spanningslyn hou ’n mens vas en die kort slothoofstuk vra vir ’n opvolg.”
Scholtz het sy onderwysloopbaan in Vosburg begin en was skoolhoof by laerskole op Piketberg, Vryburg en in Oos-London. Later jare was hy ’n dosent by die onderwyskollege op Fort Beaufort. Na sy aftrede het hy by heelwat skole in die Nelson Mandelabaai-metropool afgelos.
“Ek is ’n gebore onderwyser en het groot sukses behaal met veral skoolkonserte en die dekor.”
Deesdae leef hy dié kreatiwiteit uit in die familiebesigheid Lea Draping op Uitenhage.
“Dit is juis wanneer ek besig is met die maak van dekor dat my kop draai van die intriges. Vyfuur stop my werk. Dan weet my familie is dit my tyd om daardie gedagtes neer te pen.”
Scholtz is tans besig met ’n tienerboek oor sy grootwordjare langs die Swartkopsrivier.
“Ek is mal oor die Trompie-boeke. Ons was in ons kindertyd net so stout. Ons het daar langs die rivier bote gedokter, aas verkoop, vrugte gesteel en selfs die dominee se preek laat ver-dwyn. Al daardie kattekwaad wat ons daar aangevang het wil ek nou in ’n boek saamvat,” sê Scholtz.
- is by Reach Publishers beskikbaar sowel as ’n e-boek by Amazon Kindle en Smash Words.



