Hier is ’n paar Bederfbokse vir Boervroue wat aan boervroue in droogtegeteisterde distrikte gaan. Foto:WILNA DE KLERK


AS dit nie reën nie, kry almal swaar. Droogte ken nie van onderskeid nie, maar boere is in die eerste linie van swaarkry en dit plaas die voedselketting onder druk.

So sê Natania Schmidt van VLV Aqua-tak in die Baai, wat nou kliphard aan die reël is om soos die Boks vir ’n Boervrou-projek wat deur VLV-Wellington begin is, bederfbokse vir boervroue in die Oos-Kaap bymekaar te kry.

“Dit is hartverskeurend, die stories, die swaarkry, die diere. Boervroue is oorbekend met dié hartseer, met moedeloosheid en wanhoop. Ons kan dit nie vir hulle beter maak nie, maar ons kan bid. En ons kan ’n bietjie bederf in ’n boksie pak,” sê Natania.

“Vir die boervroue in ons streek noem ons dit die Bederfboks vir Boervroue.”

Die distrikte waarheen dié bokse gaan, sluit in: Aberdeen, Adelaide, Bedford, Graaff-Reinet, Jansenville, Middelburg, Grahamstad, Rietbron, Steytlerville en Willowmore.

Elke beskikbare sent gaan om boere se diere aan die lewe te hou en om self te oorleef. Boervroue spandeer nie meer op bederfgoed soos parfuum, lipstiffie, tydskrifte, sjokolade of koffie nie. Enige bederfdingetjie van toiletware, lekkergoed, eetgoed, hoofpynpille tot ’n be-moedigende brief, kan in ’n boks gesit word.

So, wanneer jy die boks volmaak, dink jouself in wat jy ongelooflik sou waardeer het indien jy die boervrou was wat moet oorleef in die ergste droogte ooit.

Uitenhage-afsetpunt

Jeanette du Toit van die Flower & Gift Shop in Graaff-Reinetweg op Uitenhage is ’n afsetpunt vir Bederfboks vir Boervroue. Bydraes kan reeds verpak in bokse (toegedraai met koerantpapier en versier met ’n mooi lint) of los artikels wat verpak sal word, kan afgegee word.

Despatch-afsetpunt

Ursula le Roux van Theaan’s Garden by Cloetestraat 6 op Despatch is die VLV-Despatch se afsetpunt vir bederfbokse.

  • Vir meer inligting oor die VLV-Aqua Be-derfboks vir Boervroue bel Natania by 082 661 6920 of epos: natania@heinzinstyle.co.za en vir die VLV-Despatch se hulp met Bokse vir Boervroue bel Juby by 082 823 9972.

VLV Aqua se eerste besending van 106 be-derfbokse gaan op 28 Oktober na Aberdeen.

“So lank die reën wegbly, so lank moet ons volhou om te bid vir uitkoms. So lank moet ons goedheid en guns bewys,” sê Natania.

– HEILIE COMBRINCK

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article