VLIEGDUIWE in die Nelson Mandelabaai se 2019 wedvlugseisoen het afgesluit met twee wedvlugte vanaf Warrenton en Kokstad, onderskeidelik 633 en 513 lugkilometers.
By Despatch Posduifklub is dit die 12de agtereenvolgende wedvlugseisoen dat Boertjie Nell (GM Nell) as die klubkampioen aangewys is nadat sy duiwe onder andere 15 klubwedvlugte gewen het. Hy is ook die 2019 kampioen van die Uitenhage Despatch Federasie.
Die naaswenner is Hennie le Roux, terwyl Cornell Wait aangewys is as die 17 Duif-kampioen (vir klublede wat minder duiwe vlieg) met Rudie van Jaarsveld as die naaswenner in dié afdeling. plek.
Despatch Posduifklub moes ongelukkig vanjaar van Marcell Els, wat die afgelope vier jaar die klubvoorsitter was, afskeid neem. Marcelle moes weens mediese redes die duiwesport vaarwel roep. Sy leierskap asook insette sal beslis gemis word.
Miljoen dollar duif se afstammelinge opgeveil
Die Nasionale Hok op Despatch se veiling word eerskomende Saterdag, 26 Oktober gehou. Die tye is gewysig om by die wêreld-beker rugby-halfeindstryd aan te pas. Duiwe kan besigtig word vanaf 12:00 en die veiling begin 14:00.
Volgens van die stamboom registers wat sover ontvang is, is daar onder andere afstammelinge van “Birdy” die bekendste duif wat nog ooit aan die miljoen dollar wedvlug deelgeneem het. Birdy is destyds vir ‘n rekord bedrag van R800 000 verkoop.


