KERSTYD is om die draai en op Despatch is ’n nuwe inisiatief geloods om dié feestyd te help verligting bring by die Uitenhage Dierebeskermings-vereniging.

Buiten dat die DBV finansieël swaar trek is daar jaarliks oor die feesseisoen ’n skerp toename in diere wat ingeneem word en versorging eis. Dit is omdat daar mense is wat met vakansie gaan en hul troeteldiere onversorgd agterlaat.

Despatch-inwoner Madeléne Sachse, óók skoolhoof by die voorbereidingskool op die dorp, gaan saam met haar gesin en personeel dié Despatch-staan-saam inisiatief aanpak, maar hulle het die publiek se hulp nodig.

“Ek het ’n wenslys by die DBV gekry oor wat hulle in dié tyd nodig het om na die diere om te sien. Nou vra ons mooi vir die publiek om ons te help om items op dié lys te skenk,” sê Madeléne.

Despatch-staan-saam vrywilligers gaan op Saterdag, 7 Desember, tussen 11:00 en 14:00 op die vlakkie langs die Total-vulstasie op Despatch wees. Hier kan die publiek items vir die DBV afgee of geld skenk sodat die items gekoop kan word.

Van die items op die DBV-wenslys wat

benodig word sluit in:

. Honde-en katkos

. Dazzle dip

. Ontwurmmiddels (MediwormPlus/Milbemax)

. Nexgard tablette (vir vlooie en bosluise): 2-4kg, 4-10kg, 10-25 kg en 25-50kg

. Troeteldier-drahokke

– Medewerker

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article