HIERDIE is nou ’n ware verhaal oor ’n kwikstertjie-nes wat die pad vat in ’n Bantambakkie, en as jy weer sien, is daar nog ’n eiertjie in die nessie.
Nou hou die inwoners van Strelitziapark op Uitenhage dié kwikstertjie-nes met drie eiertjies daarin met arendsoë dop, want netnou-netnou is daar dalk Kersfees-kwikstertjies!
Mike Simmons, eienaar van die “broei-nes-bakkie,” sê die kwikstertjies het sowat vier weke gelede hul nessie in die bak gebou.
“Ek het gesien hulle is vreeslik bedrywig by my bakkie, maar nie besef hulle bou ’n nes daar nie,” sê Mike.
“Een oggend toe sien ek, hey, hier is ’n eiertjie. Die volgende dag was daar nog een. Toe nóg een!”
Dié afgetrede fabrieksbestuurder en deesdae nutsman, sê hy moes noodge-dwonge sy bakkie vir ’n paar dae gebruik vir verfwerk by ’n kerk.
“Hulle vlieg toe af wanneer ek ry en sit op die muur en wag. Sodra ek terugkom, vlieg hulle dadelik bakkie toe en gaan sit weer op die nessie.”
Mike sê dié Meneer en Mevrou Kwikstertjie het al ’n geruime tyd gelede hul intrek in die woonbuurt geneem, maar dit is die eerste keer wat hulle sy erf in Katjie- pieringstraat as broei-adres gekies het.
“Hulle is heel tuis in my huis en vlieg in die kombuis in om te kyk of daar ietsie te ete is.”
Die Bantam se bak is nou nie die ideale plek om met ’n gesinnetjie te begin nie, maar Mike sê hulle is veilig daar.
“Ek kyk uit vir die laksman, want hy sal dit as meals-on-wheels sien. Gelukkig het hy nog nie die nessie gesien nie.”
Mike het nou sy nutswerk-vrag na sy Audi verskuif om die broeipaar vir ’n paar dae in rus en vrede te laat.
“Ek hou maar die nessie dop en sal hulle nog so paar dae kans gee om te kyk wat gebeur. As die kleintjies uitbroei, sal dit baie nice wees, maar ek twyfel want die eiers was te veel dorp toe en terug sonder ’n ma of pa wat daarop sit,” sê Mike.
’n Kwikstertjie-wyfie lê gewoonlik een tot vyf eiers wat deur albei ouers oor ’n tydperk van 13 tot 15 dae uitgebroei word. Die kleintjies bly vir 14 dae in die nes terwyl hulle deur hul ouers gevoer word.
’n Inwoner van dié woonbuurt, Tertia Grobler, hou ook met groot belangstelling dié kwikstertjie-broeipaar dop of hulle dié Kerstyd kleintjies gaan hê.
“Dit is te kostelik. Wat dit so raar maak is dat dit nie ’n stilstaande voertuig is nie, maar Mike se elke-dag-gebruik-ryding en hulle wag vir hom om terug te kom.
“Ons hoop vir goeie nuus, dit sal te dier baar wees as die ‘rondreisiende’ eiertjies wél uitbroei,” sê Tertia.



