VIR die inwoners van Rosedale op Uitenhage was dit verlede Sondag ’n vreugevolle tyd om weer ’n draai by die woonbuurt se gewilde swembad te kon maak.
Families van oral het al wat kind is Sondag na die Rosedale-swembad gebring om die begin van vanjaar se somervakansie op ’n prettige wyse te vier.
“Dit is ’n aangename gevoel om te weet ons kinders het hierdie Desember weer ’n plek waar hulle in veiligheid hulle op ’n gesonde wyse pootuit kan geniet,” sê inwoner Hendrik Roman.
“Ek haal my hoed af vir die owerhede, gemeenskapsleiers én die swembad-taakspan wat hard gewerk het om ons Rosedale-swembad weer oop te kry.”
Die Rosedale-swembad, ’n olimpiese standaard swembad wat oor twee addisionele vlak kinderswempoele beskik, was die af- ge-lope drie jaar dolleeg en gesluit vir die publiek.
’n Gemeenskapsvergadering is in Januarie vanjaar gehou oor die toestand van dié swembad en ’n taakspan, bestaande uit agt in- woners van Rosedale, is saamgestel. Die taakspan het hom beywer om dié swembad teen Desember weer oopgestel te kry.
Hessie Human, een van die taakspanlede sê, “Dit was ’n lang pad en harde werk om dié swembad weer vir ons mense oop te kry. Om nou te sien hoe almal dit geniet, maak dié stryd alles die moeite werd.”
Die swembad is amptelik vir die 2019/2020 seisoen geopen deur Nigel Hendrickse en Cynthia Jantjies. ’n Gedenksteen is ook opgerig om hulde te bring aan hul pa’s Harry Hendrickse en Tom Paulse, wat nie net be-kende opvoeders in gemeenskap was nie, maar ook groot geesdriftiges oor swem as ’n sport. Hendrickse en Paulse was stigterslede van die Dolphin Swemklub wat in 1948 begin is. Dié klub is by die destydse Jubilee-swembad in Gibbon Straat, waarvan vandag slegs die bouvallige ingang te sien is, gevestig.
Dit is hier waar Nigel Hendrickse sy eerste swemles onder die wakende oog van sy streng pa, Harry, gekry het.
Bekende sportsterre en leiers uit die gemeenskap soos Hamilton Petersen, Roderick Jonkers en James Muller het Sondag die opening van die swembad bygewoon.



