EERS was daar groot opgewondenheid oor drie kwikstertjie-eiertjies in die broeines op die Bantam-bakkie, toe vreugde met die eerste oopbekkies en daarna hartseer toe die wet van die natuur ingetree het.
Meneer en Mevrou Kwikstertjie het hierdie broeiseisoen besluit om op die bak van Mike Simmons van Katjiepieringstraat in Strelitziapark op Uitenhage, nes te maak.
Mike, ’n nutsman sê hy het gesien hulle was vreeslik bedrywig by sy bakkie en het gaan kyk wat gaan aan.
“Ek was baie verbaas toe ek sien hulle het wraggies daar ’n nessie gebou. Dit is nou nie die ideale plek om met ’n gesin te begin nie,” sê Mike.
“Wanneer ek gery het, het hulle afgevlieg en op die muur gaan sit en wag tot ek terugkom. Een oggend het ek gesien hey, hier is ’n eiertjie! Die volgende dag was daar nog een en later nóg een.”
Vir twee weke het dié kwikstertjie-nes met die drie eiertjies daarin, nou en dan ’n draai in die dorp gemaak wanneer Mike noodgedwonge nutswerk moes gaan doen.
Verlede week is Mike een oggend begroet met die vreugdevolle gesig van ’n wawyd-oopbekkie van ’n klein kwikstertjie wat skree terwyl Meneer en Mevrou Kwikstertjie woes heen en weer vlieg om dié Kersfees-kwikkie te voer.
“Dit was opwindend. Ek het regtig nie gedink die eiertjies sal uitbroei nie,” sê Mike.
“Ek het bietjie gerasperde kaas op die bakkie vir die kwikstertjies neergesit en toe sien ek daar is wraggies ’n tweede kleintjie wat uitgebroei het!”
Vir ’n dag lank het dié twee Kersfees-kwikkies vir groot vreugde in die buurt gesorg.
Dié vreugde was egter van korte duur, want vroeg op dag twee het die natuur sy loop ge-neem toe ’n ander inwoner van die die buurt, die gevreesde laksman, toegeslaan het.
“Ja, dit is hartseer, maar dit is ongelukkig hoe dit in die natuur werk,” sê Mike, terwyl Meneer en Mevrou Kwikstertjie eenkant wipstert heen en weer op ’n muur loop.



