Kola du Toit is met ingang 2020 aangestel as skoolhoof van Suid-Afrika se oudste tegniese skool, HTS Daniel Pienaar op Uitenhage. Foto:VERSKAF


DIE oudste tegniese skool in Suid-Afrika, HTS Daniel Pienaar, het met ingang 2020 wéér geskiedenis gemaak met die aanstelling van die eerste vrou as hoof van dié merkwaardige skool.

In die 125ste bestaansjaar van die skool is Kola du Toit, as die 13de skoolhoof van die Tiere aangestel. Sy volg Sampie Marais op, wat verlede jaar aan ’n hartaanval gesterf het.

Hoewel sy die bemagtiging van vroue ondersteun, sê sy die feit dat sy die eerste vrou as skoolhoof by Daniel Pienaar is, is nie vir haar ’n fokus-punt nie.

“Wat my diep raak, is Daniel Pienaar se tradi-sierykheid, geskiedenis en dat dit ’n progres-siewe skool is, wat altyd poog om reg te laat ge-skied aan beide geslagte en alle kultuurgroepe.”


Skoolhou is in haar bloed

Skoolhou is in haar bloed, want albei hierdie gebore Noord-Kapenaar se ouers was onderwysers.

Haar hart klop warm vir DP waar sy die afgelope 25 skoolhou en die Tier-kultuur kén. Du Toit was hier onderwyser, departements-hoof (Engels) en adjunkhoof.

“Ek het ’n diepe besef van die groot taak wat voorlê om leiding te neem van die oudste tegniese skool in die land.

“Dankie aan die skool, ouers, oud-Tiere en vriende van DP vir julle onontbeerlike ondersteuning wat die leierskorps van die skool nog altyd geniet het. Dit maak ’n reuse taak soveel makliker,” sê Du Toit.

Du Toit het haar onderwysloopbaan by Oranje Meisieskool in Bloemfontein begin en het in 1995 by die Tiere aangesluit.

Haar man, Gabriël du Toit, is ook ’n onderwyser en hy is verbonde aan die Laerskool Lorraine. Hulle is die ouers van drie kinders en trotste grootouers van twee kleinkinders. Vakansies vat die Du Toits graag die pad om te gaan ontspan op hul familieplaas, Loskop, in die Noord-Kaap.

Dié “Ystervrou” met ’n hart vir onderwys, se ander liefdes is musiek, houtdraaiwerk, tuinmaak, skilder én sport.

Tiere se feesjaar

Die jaar 2020 is vir DP ’n besondere jaar en alle oud-Tiere word genooi om deel te wees van die feesjaar-aktiwiteite. Die skool se 125ste bestaan word onder meer gevier met die reünie-naweek van 2-4 April.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article