DIT vat spierkrag en vernuf om ’n 49.2kg kabeljou vanaf ’n hengelboot uit die water te trek.
Armand de Villiers is maar net 9-jaar oud en het dit reggekry om só ’n kneuwel Saterdag tydens ’n ligtegerei boothengelkompetisie op die Krommerivier te vang.
“Hy het die vis met ’n 4kg lyn en makriel as aas gevang. Heeltemal op sy eie,” sê sy pa, Ben de Villiers.
“Ek het nog nooit eers só groot kabeljou gevang nie.”
Armand vang die afgelope drie jaar saam met sy pa kompeterend vis en hulle behoort aan die The Rod Club.
“Hy het al mooi vis geland, maar dié kabeljou is sy grootste sover.”
Armand is in graad 4 by Laerskool Frans Conradie op Despatch.


