“DIT is ’n skande dat ons as belas-tingbetalers tevrede moet wees met dié swak diens op Uitenhage. Iemand word betaal wat nie sy werk doen nie.”

Dit is die mening van Rudi Thirion, ’n inwoner van die dorp en lid van die Mosel, Penford & Janssendal buurtwag.

herstelwerk

In Leischingstraat is waterlekke herstel, maar water stroom weer uit.

By dié herstelwerk op die hoek van Leask- en Sutherlandstrate het drie voertuie in die gat gery voordat dit toegegooi is. In die herstelproses is ’n stormwaterdrein se deksel stukkend gery. REGS: In Cowieweg is daar ’n onkruidtuin in die middel van die straat weens herstelwerk wat nie afgehandel is nie. foto’s: HEILIE COMBRINCK

Aan die onderkant van Leischingstraat is waterlekke herstel, maar water stroom steeds uit. Foto: HEILIE COMBRINCK

“Met ons patrollies in die nag moet jy meer konsentreer om nie in ’n gat te ry nie, as om op die uitkyk te wees vir kriminele elemente,” sê Thirion.

Hy sê hy is op die oorlogpad oor swak dienslewering, veral ten opsigte van die herstel van waterlekke wat nie gebeur nie sowel as die onbegaanbare dele in strate waar herstelwerk wel gedoen is, maar net so gelaat word.

“Ons hoor die storie van ‘daar is net een loodgieter vir Uitenhage’ al vir jare. Nou my flip … as daar ’n lys is met 63 waterlekke, hoe de hel kan verwag word dat een loodgieter dit moet regmaak?’

“Daar is nie een straat op Uitenhage waar daar nie ’n waterlek is nie. Maar as jy inbel munisipaliteit toe, moet jy hoor dit is ’n waterskaars-metro, ons moet water spaar. Hoe raak ons deel van die span om te sê ‘ons spaar water’ terwyl die hoofrolspeler, die munisipaliteit, nie sy kant bring nie?”

Thirion se ander frustrasie is die gebrekkige herstel van strate waar waterlekke wel reggemaak is.

“Ek het al gestop waar kontrakteurs besig was met herstelwerk in ’n straat en gevra dat hulle die gat weer mooi kan toemaak. Hulle antwoord was ‘nee meneer ons mag dit nie toemaak nie, dit is ander ouens se werk’. So lê die gate dan vir weke oop.

“In Springslaan is die gate uiteindelik toegegooi met klipgruis waarvan die stukke groter as gholfballe is. Die karre het die klippe al so gery dat dit nou die hele straat vol lê,” sê Thirion.

Volgens raadslid Pieter Terblanche, is die skuld te lê voor die deur van die munisipaliteit se departement waterwerke.

“Hulle doen die herstelwerk, maar stuur dan nie die nodige dokumentasie aan na die kontrakteurs wat verder die herstelwerk aan strate moet doen nie.

“Waterwerke grou oop en maak die waterlek reg, dan is hulle veronderstel om ’n interdepartementele bevel te stuur aan padwerke of die ingenieurs wat gekontrakteur is om die gate op te vul en die strate te herstel. En dit gebeur nie,” sê Terblanche.

Volgens hom is daar ’n gebrek by dié departement waterwerke departement want hulle hou voet by stuk dat daar aan waterlekke gewerk word binne 24 uur nadat dit aangemeld is.

“Hier is verskeie waterlekke wat maande gelede aangemeld is en nog glad nie herstel is nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article