Grebe Zaayman (Healthy Rooster) gaan die pyn van ’n vollyf-ontharing deurstaan om geld vir die DBV in te samel. Hier is hy by (van links) Maryna Snyman, Leoné Liebenberg (Must Be Nice) en Adele Gilbert (Elements SPA). Foto:HEILIE COMBRINCK

“EK is baie kleinserig, maar ek sal my man staan . . . of in dié geval moet ek lê, om ons SPCA en hulle diere te help.”

So sê plaaslike sakeman Grebe Zaayman, wat die uitdaging aanvaar het om vir ’n vollyf was-ontharing te gaan. Hy pak dit aan om geld in te samel vir die Uitenhage Dierebe- skermingsvereniging.

“Die DBV het dringend geld nodig om onder meer ’n veeartsrekening van oor die R200 000 te betaal. Dié finansiële verknorsing is as gevolg van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit wat nie die geallokeerde fondse aan die vereniging oorbetaal nie,” sê Grebe, eienaar van Healthy Rooster.

Om dié rede het ’n paar plaaslike sakemense besluit om iets mals aan te vang om geld in te samel vir die DBV, sowel as om bewusmaking te skep vir die hulp wat die vereniging nodig het.

“Ons sal nie moed opgee nie. Ons sal die pyn verduur, want dit gaan vir ’n goeie doel.”

Grebe gaan nie alleen hierdie pynlike-uitdaging aanpak nie. Radiopersoonlikheid Gertjie de Jager van Luister!FM, nog ’n man met ’n hart vir sy gemeenskap, gaan saam met Grebe op Saterdag, 29 Februarie om 10:00 onthaar word. Dié konsternasie gaan vanaf Elements SPA lewendig op die radiostasie uitgesaai word.

Adele Gilbert van Elements SPA sê, “Dit gaan daaroor om plaaslike sake te ondersteun en daarom wil ons soveel moontlik mense betrek by hierdie inisiatief. Die DBV doen ongelooflike goeie werk in ons gemeenskap. Hulle het nou ons hulp nodig.”

Nog ’n plaaslike besigheid, Must Be Nice, wat sportklere vervaardig, het ingespring om deel te wees van die projek. Eienaar Leoné Liebenberg het ’n SA-vlag swembroekie aan Gertjie geskenk. Elements SPA het op hul beurt Grebe se SA-vlag swembroekie geborg. Die manne gaan in dié broekies lê vir die ontharings-uitdaging.

Hoe kan die publiek help

Die publiek kan help deur Grebe en Gertjie te ondersteun deur ’n SMS as volg te stuur:

  • SMS die letters SPCA na 38844 en skenk só R10 aan die Uitenhage & Distrik DBV; of
  • SMS die letters SPCA na 40747 om R20 aan die vereniging te skenk.

Finansiële bydraes kan ook direk in die Uitenhage & Distrik DBV se bankrekening gemaak word by: SPCA Uitenhage & District, Nedbank-tjekrekening, rekeningnommer: 12 7700 4544; bankkode 127716.

Buiten geld, sal skenkings van nie-bederfbare kosse en skoonmaakmiddels ook deur die DBV verwelkom word.

Dankie vir hulp

“Dit is absoluut mal wat hulle gaan doen, ek weet nie hoe die ouens dit gaan uitstaan nie, maar dit is wonderlik dat hulle die DBV wil help,” sê Deirdre Swift, bestuurder van die Uitenhage DBV.

“Ons waardeer elke inisiatief. Baie sterkte aan die manne.

“Ons hoop die ontharingsproses gaan seepglad verloop.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article