DESPATCH Stoeiklub is een van die oudste sportklubs op Despatch en menige Oostelike Provinsie en Suid-Afrikaanse stoeikampioene het hulle grepe by dié einste klub geleer.

“Wêreldwyd is stoei besig om ’n oplewing te ondervind. So-ook in Suid-Afrika en baie beslis op Despatch,” sê Dawid van der Merwe, ondervoorsitter van die Despatch Stoeiklub. “Ons klub is die enigste aktiewe stoeiklub in die Despatch en Uitenhage omgewing.”

Van der Merwe sê dit is nodig dat sportklubs aanpas by veranderende omstandighede. Daarom maak die klub voorsiening vir stoeiers wat slegs wil oefen en nie aan toernooie wil deelneem nie, sowel as vir stoeiers wat gedryf is om die hoogste sport in stoei te behaal.

“In die skole-kategorie kan stoeiers geleer word hoe om te stoei, maar hulle hoef nie aan toernooie deel te neem nie. Ouers beskou dit as die perfekte wyse om hul kinders gesonde oefening te laat kry en terselftertyd te leer hoe om hulself te verdedig indien nodig.

“Dit is verbasend om te sien hoe die kinders se selfvertroue en koördinasie verbeter deur slegs deel te neem aan die oefeninge.”

Danie Els, Desaptch Stoeiklub se hoofafrigter is ’n gegradeerde afrigter en wedstrydbeampte. Hy is ook ’n SA stoeikampioen wat in 2000 Suid-Afrika verteenwoordig het in Nieu-Seeland. Hy is die kleinseun van een van die eerste stoeiers van die klub, Louis Botha.

Ander oud-Springbok stoeiers wat uit dié klub kom sluit in: Norman Kilian, Morné Els en Johny O‘Neil. Heelwat OP sowel as SA kampioene kom ook uit dié klub soos Danie Fourie, Pierre van Rensburg, Hansie Stroebel, Hannes van Rensburg, Bertie Gerber, Louis Els, Greg Olivier, Nico Els en Hein van Rensburg.

Die klub is in 1958 gestig deur John Ludchoff, Chris Snyman, Michael Smit, C. Jordaan, W. Scheepers en die destydse afrigter Allan Lawrence.

Despatch Stoeiklub se oefentye is Maandae en Woensdae vanaf 17:15 tot 18:45. Daar is geen ouderdomsbeperking vir aansluiting nie en die klub het stoeiers vanaf 5 tot 54 jarige ouderdomme .

  • Vir meer inligting oor die klub bel Mariette Els by 076 162 9029 of gaan kyk op Despatch Stoeiklub se Facebook-blad of hul webtuiste by despatchwrestlingclub.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article