SPORT is sinoniem met Despatch, die tuisdorp van Rassie Erasmus, die huidige wêreldrugbykam- pioene se afrigter. Sport het ook Dorette Badenhorst, die Suid- Afrikaanse Protea-netbalspan se afrigter na Despatch gebring.
Hoërskool Despatch se vier netbalbane is oorgedoen en opgegra-deer om ook die aksievolle Fast5-netbalwedstryde aan te bied. Badenhorst was nie net die eregas om dié bane amptelik te open nie, maar het ook ’n afrigterskliniek aangebied.
Afrigters van sover as Somerset-Oos en Plettenbergbaai het die geleentheid aangegryp om die land se top netbalafrigter in aksie te sien.
“Dit was puik!” sê Theresa Prince, Hoërskool Despatch se bemarker sowel as een van Suid- Afrika se internasionaal gegra-deerde netbalskeidsregters.
“Dorette het alle fasette van die spel aangeraak en afrigters is baie nuwe tegnieke gewys wat hulle nou aan hul spelers kan oordra.”
“’n Afrigter kan nooit genoeg leer nie omdat die spel konstant ontwikkel en dit sal altyd ’n voorreg wees om só ’n hoë profiel afrigter by ons skool te kan ontvang.”
Dorette sê kortpaaie na sukses hou geen lewenslesse in nie, en dat dit juis lewenslesse is wat sukses volhoubaar maak.
“Daar is oral talent, maar dit is wat jy met daardie talent doen. Dit verg harde werk en om te oefen met ’n doelwit en ’n droom om sukses te behaal,” sê sy.
Dorette het die skool gelukgewens met hulle puik netbalfasiliteite en die netbalspelers voorspoed toegewens.
“Ek hoop dat daar eendag ’n Protea-netbalspeler uit Hoërskool Despatch gaan kom,” het sy bygevoeg.
Die hoofnetbalbaan se nuwe oppervlak is deur Judy Oelofse geborg. Sy is die vrou van dr. Vic Oelofse, die eerste mediese dokter wat die skool opgelewer het.
“Die skool het ingespring en geld ingesamel om ook die ander drie bane oor te doen.
“Die doel-sirkels is aangepas om ook die opwinding van vinnige Fast5 wedstryde hierheen te bring,” sê Theresa.
Colin Bartle, skoolhoof van Hoërskool Despatch het die ouers van netbalspelers en borge bedank vir hulle betrokkenheid wat bygedra het tot die moderne bane.
Verlede jaar is ’n pawiljoen langs die netbalbane gebou deur die huidige o.16 netbalspelers se pa’s.
Vanjaar het dié nuwe bane nuwe telborde gekry wat geborg is deur Johan en Christelle Britz.
“Dit verg harde werk en baie geld om die bane in so ’n puik toestand te hou.
Ons wil dit graag so hou sodat ons spelers altyd trots kan wees op hulle tuisbane en altyd met goeie herinneringe aan hul netbaldae by die skool terugdink,” sê Theresa.




