Prisondent. Foto:HEILIE COMBRINCK

“GAAN haal daardie bordjie by die voorhekkie wat sê ‘Pasop vir die Hond. Beware of the Dog. Lumkela Inja’ af en vervang dit met ‘Beware, Pasop, Lumkela Covid-19’.”

So sê die befaamde Prisondent, die verhoog-naam vir motiveringspreker Brian Davids van Uitenhage en beampte in diens van Korrektiewe Dienste.

“Wees ’n ware Suid-Afrikaner. United we must stand against the Covid-19 virus. Because if we are divided, by not adhering to the lockdown rules, the virus will get the better of us and we will all fall.

“Stay home. Stay safe, stay put and you will have a salute. I thank you. Dankie. Enkosi Kakhulu.”

Prisondent is egter erg ontstig oor die mense wat die noodprotokol van ’n staat van inperking, wat vereis dat almal in Suid-Afrika tuis en geïsoleerd moet bly, verontagsaam.

“Mense wat nie by die inperkingreëls hou nie, gee niks vir ander om nie. Wat ook al hul attitude is, dit is pure stupidity – dit is nie een wat Suid-Afrika vorentoe gaan vat nie,” sê Prisondent.

Hy glo die rondlopers in hierdie tye is siende blind. “Hulle sien wat die korona-virus oral oor die wêreld aan mense en lande doen. Eerste wêreldlande knak, wat gaan dit aan ons doen wat ’n derde wêreldland is?”

“Daardie mense wat die inperking ignoreer en dié wat plunder en kriminele dinge doen, is dieselfde mense wat nog gaan hardloop vir hulp wanneer die koronavirus hulle beetkry. Dán moet wetsgehoorsames bontstaan om hulle te help.”

Prisondent wil die boodskap duidelik aan almal oordra dat die gevaar om nie die inperk- ingsreëls te gehoorsaam nie, die moontlike dood vir jouself of vir ’n ander kan beteken.

Maar alles is nie net gloom en doom nie, Prisondent sê daar is altyd hoop.

“As almal doen wat van elkeen van ons verwag word, saamstaan vir volk en vaderland, sal ons die pandemie oorwin.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article