Karen Zoid en die sanger Elandré, voorheen van Despatch, het skaars sy treffer “Vuur op die water” verwerk en op die internet beskikbaar gestel, of dit is reeds bo aan die trefferlyste.
Suid-Afrikaners het die verwerking verlede Donderdagaand vir die eerste keer gehoor op Zoid se geselsprogram, Die Republiek van Zoid Afrika, toe Elandré ’n gas op die program was. Die TV-aanbieder Jeanie D en die aktrise Crystal-Donna Roberts was ook op die bank saam met Zoid.
Die verwerking van “Vuur op die water” is ná die episode op kykNET op musiekstromingsdienste beskikbaar gestel, waar dit dadelik op verskeie Suid-Afrikaanse stromingsplatforms die nommer-een-posisie ingeneem het. Dit kan afgelaai word op Apple Music, Spotify, Tidal en Deezer, en daar is ook ’n video op YouTube.
In haar volgende program gesels Zoid met die akteur Nico Panagio en Laetitia le Roux wat almal se harte gesteel het op Survivor SA. Die sanger Demi-lee Moore is een van die gaste en sy sing een van Karen se mooiste ballades saam met haar.
Kyk die video hier:





