Veearts dr. Riaan Mulder sê honde-eienaars moet veral jong honde inent teen katgriep. Sekere rasse, veral die swart en rooibruin honde soos Rottweilers, Dobermanns en Dachshunds het geneties ’n hoër vatbaarheid vir die parvovirus. Foto:VERSKAF

AS honde soos mense was, was hulle almal nou op hol oor kat-griep.

“Katgriep is vir honde soos Covid-19 vir mense is . . . met die uitsondering dat katgriep veel erger is. Meer as 50% van die honde wat hiermee gediagnoseer word, maak dit nie,” sê dr. Riaan Mulder, ’n veearts van die Uitenhage Dierekliniek.

Die parvovirus (katgriep) het die afgelope tyd by baie honde uit verskillende gebiede op Uitenhage voorgekom.

“Dit is ’n hoogs aansteeklike, hoogs weerstandige en dodelike virus by honde. Dit beteken die virus oorleef vir lang tye. In gunstige omstandighede kan dit selfs vir maande, buite in die son oorleef en dan weer deur ’n gasheer (hond) of ’n verspreider opge-neem word. Dit versprei soos ’n veldbrand,” sê dr. Mulder

“Dit word nie net tussen honde oorgedra nie, maar kan selfs deur skoensole versprei word, sou die mens deur ’n virus-besmette gebied geloop het.”

Katgriep word deur een van die kleinste siekte-organismes veroorsaak, vandaar die naam parvo wat klein beteken. Die virus is só klein dat ongeveer 300 000 langs mekaar in ’n millimeter inpas. Een gram mis wat met die virus besmet is, kan groot hoeveelhede honde aansteek.

“Dit is hoofsaaklik jong honde onder ’n jaar oud wat vatbaar is vir die virus. Daarom is dit so belangrik dat elke klein hondjie teen die virus ingeënt moet word,” waarsku dr. Mulder.

Dr. Mirjam van der Wel, ’n veeaarts by Vets Incorporated, sê die katgriepvirus is internasionaal bekend as Canine Parvovirus, in Suid-Afrika word dit egter kat-griep genoem. Dit kan misleidend wees, want die siekte kan nie van katte na honde versprei nie. Sy bevestig dat die parvovirus hoogs aansteeklik, weerstandig en dodelik is.

“Mense sê dikwels, ‘maar my hond kom nie uit die werf nie, so hoe het hy die virus gekry?’ Dié virus kan versprei word deur tuindienste se grassnyers indien daar katgriep op enige van die persele, wat deur dié dienste ge-sny is, voorgekom het. Dit kan selfs deur motorbande, wat deur besmette mis gery het, versprei word,” sê dr. Van der Wel.

Simptome en gevolge

Dr. Mulder sê die virus veroorsaak inflammasie van die maag-dermkanaal (gastro-enteritis) en gevolglik bloederige diarree en braking.

“Wanneer jou hond met die parvovirus besmet word, is die aanval op sy immuunsisteem vinnig – binne 24 uur is hy al pap en baie siek.

“Die virus tas ’n hond se beenmurg aan en beenmurg produseer witbloedselle, of die soldate wat infeksie moet beveg. So as hulle immuunstelsel onder druk kom weens katgriep en daar is nie ge-noeg witbloedselle om die virus te beveg nie, kan ’n hond doodgaan.”

Hy sê dat indien daar voorkoms van katgriep-organismes op ’n werf is of was, dit ontsmet kan word met gewone middels soos Jik, wat die virus sal doodmaak. Dit is egter prakties onmoontlik om ’n hele werf te ontsmet, daarom moet daar gefokus word op die gebiede waar die water- en kosbakke staan, waar hul hokke is en op die hondekussings.

Wat om te doen as hond katgriep het

“’n Hond is baie naar as hy katgriep het, so om hom kos te pro-beer ingee, sal hom net nog naarder maak. Die hond se maag moet leegkom.

Gee die hond enige medisyne wat mense drink vir naarheid, soos Valoid pediatriese setpille of selfs Gastropect, en kom so gou moontlik by ’n veeaarts uit. Antibiotika maak nie die virus dood nie, maar behandel die simptome.

“Elektroliete en glukose kan toegedien word nadat die naarheid gestop is. Vloeistowwe per mond moet in klein hoeveelhede, baie gereeld en met ’n spuit, toegedien word,” sê dr. Mulder.

’n Hond wat betyds behandeling kry, neem volgens dr. Mulder gewoonlik tussen drie tot vyf dae om te herstel.

Wanneer moet ’n hond ingeënt word?

Inenting is die enigste manier om jou geliefde vierpoot teen die virus te beskerm, sê dr. Mulder.

“Ent jou hond teen parvovirus in. En pas basiese higiëne toe.”

Die ideaal is om ’n babahondjie weg te hou van ander honde en op die ouderdom van tussen ses en agt weke teen parvovirus te laat inent. Ná die eerste inenting moet dit nog twee keer met tussenposes oor twee tot vier weke herhaal word. Vra jou veearts hieroor uit.

“Sekere rasse, veral die swart en rooibruin honde soos Rott-weilers, Dobermanns en Dachshunds het geneties ’n hoër vatbaarheid vir die parvovirus.”

Dr. Mulder sê as die regering net 1% van die geld wat aan Covid-19 teenveldtogte in Suid-Afrika bestee word, aan ’n parvovirus teenveldtog sou skenk dan sal die virus finaal bloedneus in Suid- Afrika kry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article