LEEVA en Luca, twee onafskeidbare honde op Uitenhage, is na 21 dae uit-eindelik weer bymekaar nadat die verlore Leeva danksy inwoners se oplettendheid, die gholfklub-bestuurder se besorgdheid en DBV se hulp gevind is.
“Dit is ongelooflik. Ons het nooit gedink dat soveel ander mense ook vir diere omgee nie.
Ons het baie oproepe gekry en oral waar ons gaan, vra mense ‘het julle al die hond gekry?’. Daar is nou nog mense wat bel en sê hulle het ‘n hond wat soos Leeva lyk, sien rondloop,” sê Cobie Erasmus, mensemaat van Leeva en Luca.
“Baie, baie dankie aan almal wat saam gehelp soek het en ook aan Morris Olivier wat vir Leeva daar op die gholfbaan gesorg het. Ons waardeer dit ongelooflik baie, ons harte juig van dankbaarheid.”
Op 15 Mei het Cobie en Rassie Erasmus van Amandastraat in Van Riebeeckhoogte, se twee reuns per ongeluk by die hek uitgekom en die pad gevat.
“Toe die egpaar agterkom hulle is weg, het hulle dadelik begin soek en oral in die woonbuurt plakkate opgesit. Hulle het ook ’n kennisgewing op sosiale media geplaas. Luca is dieselfde middag naby Laerskool Albertyn gekry, maar Leeva, wat soos ‘n Australiese dingo-wildehond lyk, was skoonveld.
Verlede Donderdag het die Erasmusse ‘n blye oproep vanaf die Uitenhage Dierebeskermingsvereniging gekry dat Leeva deur Morris Olivier, bestuurder van die Uitenhage Gholfklub, by hulle aangemeld is. Hy het die “rondloperhond” al ses dae vantevore op die gholfbaan gesien rondloop en opgelet dat hy baie maer is.
“Dit is ‘n fantastiese hond met die mooiste maniere. Hy het daar by gat een en sewe oorkant Willowdam by die water gebly,” se Morris.
“Ek het die DBV gebel en gesê daar is ‘n hond wat daar rondloop. Hy was baie maer en ek het elke dag vir hom kos gevat. Ons het in die paar dae groot vriende geword.”
Rassie sê alhoewel Leeva baie maer geword het, is hy op-en-wakker en vreet nou vir ‘n vale.
“Sy pote was baie seer, veral die een agterpoot bly hy nog steeds optel. Dat hy vir drie weke oorleef het, is ‘n wonderwerk. Ons noem hom sommer nou Survivor!
Nadat Rassie die hond by die DBV gaan haal het, is hy reguit veearts toe waar Leeva die nodige behandelings gekry het om sy gestel weer op te kikker.
Cobie sê Leeva en Luca was “skoon mal toe hulle mekaar weer sien. Hulle het omtrent gehardloop en gespeel. Dit was so lekker om te sien hoe bly hulle ook was om weer bymekaar te wees.
“Maar kyk, al wat ‘n hek is, is nou behoorlik op slot.
“Ons maak seker dat so ‘n glips met ‘n oop hek nooit ooit weer op hierdie erf sal gebeur nie.”



