Campworld & Safari 4×4 Centre se span (agter van links) Bonakele Moni, Bongani Nqgqaqu, Enough Komani en Siyabonga Dyosi. In die middel is Brandon van der Walt en Eben Grobler en voor Arthur Bownes, Vuyelwa Madubela en Chantelle Grobler. Foto: VERSKAF

’n VUURTJIE by ’n tent of karavaan opgeslaan in ’n erf. Vislyne wat natgemaak word in ’n swembad. Dit is maar twee van die vele “belewenisse” wat buitelugliefhebbers tydens grendeltyd op sosiale media deel.

Dit is dag 105 van dié COVID-19 inperking wat kampeerders verhoed om tentpenne in te slaan en die vryheid van ons land se natuurskoon in parke, oorde en reservate te geniet.

Tog sien hierdie soort vrygeestiges altyd die padvat-potensiaal vir ’n wegbreek uit stads- of dorpslawaai en kry hulle op innoverende manier dit reg om onder ’n sterrehemel aan die slaap te raak.

’n Skets van Eben Grobler, op sy gelukkigste met sy 4×4 en karavaan iewers in die berge op pad om te gaan kamp. Die skets hang in sy kantoor.INLAS: Eben Grobler van Campworld and Safari Centre 4×4 sê die inperking het nuwe kampeergeleent-hede geskep.

Eben Grobler, eienaar van Campworld and Safari Centre 4×4 in die Baai, bevestig dit.

“Baie het verander in dié grendeltyd, só ook het kampeerders hul visie verstel en begin om die buitelug op plase van vriende of kennisse te geniet.”

Eben self het in grendeltyd ook “visgevang” en “gekamp” op sy Despatch-erf en tussendeur kampeerders aangemoedig om hul toerusting na te gaan en reg te hou vir die dag wanneer hulle weer hul karavane kan haak of tente inpak en die pad vat.

Vir die meeste van die kampeerders was sulke raad nie eens nodig nie, want vir hulle was dit die outomatiese ding om te doen.

“Ons het ’n toestroming gehad van kampers en viertrek-entoesiaste nadat ons op vlak 3 van die inperking weer ons besigheid se deure op 1 Junie kon oopmaak. Die inperking en pandemie het mense depressief laat voel en baie het opnuut besef hoe goed kamp en die buitelug is vir ’n mens se liggaam en gees.

“Daar is beslis ’n nuwe tendens, privaat uitspanplekke op plase, wat besig is om vlam te vat. Dit is waarheen kampers nou uitwyk omdat oorde en parke nog gesluit is vir akkommodasie. Kampeerders kom hier by die winkel in en vertel van wonderlike plekke in klowe of langs ’n rivier, waar hulle kon kuier en kamp op ’n plaas.

“Ons gaan beslis in hierdie jaar hoor van baie nuwe kampterreine op versteekte en afgeleë plekkies.”

Eben sê daar is selfs kliënte wat hul oorsese vakansies gekanselleer en belê het in ’n karavaan en kamptoerusting.

“Die pandemie is sleg, maar dit het ook ’n goeie nagevolg gehad. Mense het begin besef hoe bederf ons is met ongelooflike kampplekke in ons land. Hoe geseënd ’n mens is om kos op die tafel te kan hê en om goeie gesondheid te geniet.”

As die kampgogga besig is om jou te byt, of as jy ’n kampeerder is en op soek is na ’n nuwe uitspanplek, is Eben en sy span net die mense by wie jy moet gaan inloer. Eben en sy gesin het al wyd en suid en oor landsgrense gaan kamp en kén baie plekke.

“Die publiek wat hier instap, is my inspirasie. Onthou elkeen wat hiernatoe kom, is positief ingestel, want hulle wil gaan kamp, hulle wil buitelug toe. Niemand stap hier negatief in omdat hulle wil gaan kamp nie. So hierdie is ’n plek van positiewe energie.”

Eben sê alhoewel karavaan-verkope seisoenaal is met padkaravane wat vanaf Augustus en die viertrek-karavane en sleepwaens wat in Maart/April verkoop, verkoop tente en kamptoerusting regdeur die jaar.

“Ons winkel is ’n reg-deur-die-jaar-winkel want hier kan jy alles vir kamp koop. Bring jou kamplysie, laat ons sien wat jy beplan. Ons sal vir jou sê wat is onnodig of wat jy beslis nodig sal kry en waaraan jy miskien nooit gedink het nie. Ons help graag om jou kampondervinding onvergeetlik te maak.

“Ons kry baie kliënte wat hul voertuie wil laat mooi lyk met 4×4 toevoegings. Maar mooi lyk sit gewig aan jou voertuig en affekteer die suspensie.

“Daarom stap ons die pad met ons kliënte, hulle moet die ondervinding beleef ten opsigte van dit wat hulle wil aanbring op ’n voertuig, sleepwa of karavaan.”

Eben het sy kampeer-versugting tydens die streng grendelstaat (vlak 4 en 5) probeer troos met die lyn-natmaak in die swembad. Hy wéét baie van sy kliënte moes ook húl kampeer-onttrekkingsimptome met een of ander “buitelug-aksie” probeer verlig.

“Wat vir my so wonderlik was toe ons weer kon oopmaak, was die baie mense wat hier ge-stop het net om te kom hallo sê en hoor of alles nog oukei is. Dit was ’n wedersydse ervaring want ek het die gesels oor kampavonture ook baie gemis.”

Wat was die eerste plek waar Eben en sy gesin met die verslapping van die grendeltyd gaan kamp het? “Baviaanskloof. Om weer daar op die plato te kon staan was ongelooflik. Dit is asof ’n mens met nuwe oë na die natuurprag kyk.”

  • Eben en sy span by Campworld and Safari Centre 4×4, by Vierdelaan 24, Walmer, vier die maand hul derde jaar in die bedryf, daarom word “warm-winter-spesiale-aanbiedinge” aangebied.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article