Mari Grobler met haar nuutste boek, Ivoorblom vir Hai-Lin.

Ella Smith (88) het Mari Grobler geïnspireer om Reënboogbruid en die opvolgboek, Ivoorblom vir Hai-Lin te skryf. Fotos:VERSKAF

WANNEER ’n leser ’n skrywer pols vir ’n opvolgboek van ’n romanse, en daarna vir nóg ’n opvolg tot daar uiteindelik ’n trilogie is, kan ’n mens maar weet dit is ’n boeiende storielyn.

“O gonna, dit is lekker om aanhangers te hê wat my so inspireer!” sê die Mari Gro-bler, kunstenaar en bekroonde skrywer van Uitenhage.

Haar nuutste boek, Ivoorblom vir Hai-Lin, is deel van ’n trilogie wat deur LAPA Uitgewers uit hul Romanza- skrywersmandjie vir lekkerlees-liefdesverhale uitgegee word.

Mari het al 12 romanses, asook 10 jeug- en kinderboeke en drie digbundels agter haar naam.

“Dit is die eerste keer dat ek ’n storie skryf wat op die end drie boeke lank is. Gelukkig kan die boeke afsonderlik gelees word.”

Mari sê die Romanza-trilogie is alles aan Ella Smith (88) van Pretoria te danke. Mari vertel hoe dit gebeur het: “Eers was daar net die boek, Liefdespalm vir Simone.

“Ella het dit gelees en toe ’n dik brief, via die uitgewers, aan my gerig. In dié brief het sy ge-vra of ek nie asseblieftog ’n opvolgboek wil skryf nie.”

Ella Smith sê op haar beurt die rede vir haar brief was dat sy, “só lief geraak het vir die karakters van Liefdespalm vir Simone. Maar, ek het vir haar gesê sy doen my en ander lesers van die boek ’n onreg aan om so ’n pragtige verhaal onvoltooid die wêreld in te stuur.

“Haar karakters lewe en ek wou méér weet van elkeen van hulle. Dit was die eerste keer in my lewe dat ek onmiddelik weer begin lees het aan ’n boek wat ek sopas klaar gelees het,” sê Ella.

Dié brief was die begin van Mari en Ella se hegte vriendskap. Hulle het oor-en-weer outydse briewe vir mekaar geskryf, geseël en gepos. Ella het selfs vir Mari op Uitenhage gaan kuier en uiteindelik het Mari toegegee en só het Reënboogbruid tot gestalte gekom. Nadat Ella dié boek gelees het, skryf sy toe weer aan Mari dat die storie nog nie klaar kan wees nie.

Mari sê, “Sy het aangehou totdat ek besluit het om die storie te rek, en só het ek die derde boek, oor Hai-Lin en Laum se vakansieromanse begin skryf.

“Ek het die boek aan Ella opgedra want sy het my stories aanhou nuwe lewe gee.”

Mari sê haar Romanza-trilogie is “goedvoel boeke, maar nie oppervlakkig nie.

Die drie boeke speel oor drie geslagte af en elkeen het sy eie storie om te vertel.

“Ivoorblom vir Hai-Lin is ’n boek wat die leser op kop-reise laat gaan en oplig uit die COVID-19 pandemie waarin ons tans leef.”

Romanses is daarvoor bekend dat dit met die lees daarvan, ’n chemiese reaksie in jou brein tot gevolg het wat jou goed laat voel en spanning op ’n natuurlike wyse verlig.

LAPA Uitgewers skryf op hulle Romanza-webblad: “Romanlesers is die mees be-lese lesers in die wêreld. Hulle is sterk, intelligente en kreatiewe vroue wat presies weet wat hulle wil hê. Dit dra by tot vroue se bemagtigingsproses omdat die heldin ’n vrou in eie reg is. Lesers voel dat dit hulle insig in hul eie verhoudingsprobleme gee.”

Ivoorblom vir Hai-Lin speel in Shanghai af. Mari het twee jaar lank navorsing gedoen oor China, Shanghai, die Chinese se leefwyses, kuns, musiek, kultuur en modes.

“Ek het die web gesurf, boeke verslind en dokumentêre programme gekyk. Ek moes myself vereenselwig met die tipografie sodat ek in my kop daar kon gaan loop. Ek moes weet watter bome en blomme in watter seisoene blom en ook wat die seisoen- gebonde vrugte en groente is.

“Gelukkig was my beste vriendin op hoërskool van Chinese afkoms.

Haar ouerhuis was soos my tweede huis en daar het ek baie geleer oor die Oosterse leefwyse.”

Mari sê tydens die skryf van Ivoorblom vir Hai-Lin het haar man (Danie) swaargekry … “Want ek was meestal iewers elders in ’n wereld van my eie, doer in die Ooste.”

Mari het vir Ella ’n kopie van Ivoorblom vir Hai-Lin gepos.

“Ek hoop sy is dié keer tevrede. Ek is nou uitgeskryf aan die familie-trilogie.”

Ella hou intussen die pos dop. Sy sê sy sien verskriklik uit om Ivoorblom vir Hai-Lin te lees.

“Dit is die groot storie waarvoor ek die heeltyd gewag het. Ek kan nie wag om die boek te begin lees nie. En ek hoop daar kan van hierdie drie boeke ’n fliek gemaak word.”

Nog ’n nuwe boek op die rakke waarin van Mari Grobler se skryfwerk verskyn is Vers & Vrou, ’n bloemlesing deur Human & Rousseau. Daarin verskyn vyf van haar gedigte.

Mari se jeugboek Bella en Sebastiaan, was vanjaar op die kortlys vir ‘n MER-prys.

  • LAPA se Romanza word as die wêreld se grootste romantiese genre beskou. Lidmaatkskap bied toegang tot ’n legio stories wat aanlyn gelees kan word.

Mari Grobler se Ivoorblom vir Hai-Lin kan by boekwinkels of direk by LAPA Uitgewers aanlyn bestel of gelees word by https://lapa.co.za/romanza.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article