DIE gejaag en roekeloosheid van motorbestuurders in Martinstraat, Windsorpark op Despatch, het inwoners moedeloos en mede- padgebruikers vrees vir hul lewens.
Liezl Greyling woon die afgelope vier jaar in die straat en sê die jaagduiwels, waarvan sommige in die straat woon, verontagsaam spoedreëls en boonop is daar geen verkeersveilig-heidsmaatreëls in plek nie.
“Al wat ek wil hê is dat almal wat die straat gebruik veilig moet wees en dat ons iets moet doen aan die jaagduiwels voor dit te laat is,” sê Greyling.
“Met die somerweer en son wat later ondergaan, wemel die straat nou weer van kinders wat met hul fietse ry, mense wat draf en ander wat met hul honde stap.”
Daar was gelukkig nog geen ongelukke in die straat nie, maar Greyling se geliefde kat is ’n paar jaar gelede deur een van die jaagduiwels raakgery. Die kat moes weens die erns van haar beserings uitgesit word.
“Selfs vriende en familie wat vir my kom kuier, raak gefrustreerd en is bekommerd oor die gejaag hier in die straat. My pa het al probeer om van die jaagduiwels te keer sodat hulle stadiger ry, maar dit was sonder sukses,” sê Greyling.
Uit moedeloosheid uit het Greyling haar tot sosiale media gewend, om te vra vir raad oor dié gejaag, wat net nie wil ophou in die straat nie. Heelwat mense het kommentaar gelewer en voorgestel dat sy ’n petisie opstel sodat inwoners dit kan teken met die hoop dat spoedhobbels en ander verkeersmaatreëls in plek gestel kan word.
“Iets moet spoedig van die owerhede se kant af gedoen word voor dit te laat is en hier iemand doodgery word,” sê Greyling.
Raadslid Francois Greyling sê sy kantoor het verskeie klagtes ontvang oor die gejaag in Martinstraat. Hy het ook voorgestel dat inwo-ners ’n petisie moet opstel om aansoek te doen vir spoedhobbels in die straat.
“Met ’n petisie wat aan die munisipaliteit gegee word, sal hul op hul beurt die departement van vervoer stuur om die situasie te monitor. As hulle dit nodig vind en die begroting laat dit toe, sal spoedhobbels in die straat aangebring word,” sê raadslid Greyling.
Intussen word padgebruikers van Martinstraat versoek om versigtig te wees vir dié roekelose bestuurders en dié jaagduiwels word versoek om soos verantwoordelike padgebruikers te begin ry voor hulle ’n noodlottige ongeluk veroorsaak.


