Prof. Albert Troskie (orrelis) en dr. Erika Bothma (pianis), het pas ’n opwindende nuwe album, Serenata, op CD uitgereik. Foto’s:VERSKAF

Dr. Erika Erna Bothma en prof. Albert Troskie.

TWEE van Suid-Afrika se welbe-kende musici, prof. Albert Troskie en dr. Erika Bothma, het pas ’n opwindende nuwe album, Serenata, op CD uitgereik.

Op dié splinternuwe album kan ’n unieke kombinasie van orrel- en klavierspel gehoor word.

Troskie (orrelis) en Bothma (pianis), albei van Port Elizabeth, speel 20 orrel- en klavierduette van bekende en geliefde geestelike en sekulêre werke op die indrukwekkende Somerstrand-orrel en ’n groot Steinway-vleuelklavier.

Die inhoud van die album sluit in die Serenata van Toselli wat Troskie spesiaal vir orrel en klavier verwerk het.

Dié besondere verwerking was reeds by vroeë uitvoerings so gewild dat die CD dan ook daarna vernoem is.

“Die inhoud van die CD is gekies uit geestelike musiek wat ons sedert 2018 Sondae saam by die eredienste in Somerstrand speel,” sê Bothma.

“Benewens ons eie orrel- en klavierverwerkinge is ook verskeie verwerkings van Kersliedere deur ander musici wat ons in 2018 en 2019 tydens Kersdienste uitgevoer het, opgeneem.”

Musiekliefhebbers kan uitsien na Highland Cathedral, Ave Maria van Bach/Gounod, Beethoven se Ode to Joy en ook die Marche Militaire van Schubert wat spesiaal deur Bothma vir orrel en klavier verwerk is.

Daar is ook ander gunsteling-liedere soos Deck the Halls, Kom dank nou almal God, Eng’le in die hoogste hemel en Ons Vader opgeneem.

Bothma speel ook twee klaviersolo’s; Liszt se virtuose transkripsies van die Schumann-liedere Frühlings-nacht en Widmung, terwyl Troskie sy jongste twee orrelverwerkings waaronder die Fantasie op drie Aandgesange, uitvoer.

“Dit is ons eerste CD wat ons saam opgeneem het,” sê hy. “Ons het wel al ’n geruime tyd met die idee gespeel om saam ’n CD op te neem, maar dit het eers in Maart vanjaar net voor die grendeltyd ’n werklikheid geword.”

“Een verwerking van my is juis paslik geïnspireer deur Psalm 91:3; “ . . .en jou bewaar van dodelike siekte”.

Vandat die gewilde orrel- en klavierduetpaar begin saamwerk het, het hulle by verskeie musiekkonserte opgetree en self ook musiekkonserte aangebied waar hulle ander wêreldklasmusici uitgenooi het om saam met hulle op te tree.

  • Die CD bied 75 minute van luistergenot en kos R95 posgeld ingesluit. Indien dit self afgehaal word, kos dit net R80. Serenata kan by Albert Troskie by 082 726 9595 bestel word, of stuur e-pos aan a.troskie@­telkomsa.net; of by Erika Bothma by 082 308 4494, of e-pos erika.bothma@mandela.ac.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article