Die boerboel Lexis en Deon Puren in sy 2006 Nissan 1400-bakkie laat die koppe in Despatch se strate draai. Foto:HEILIE COMBRINCK

PRAAT nou van twee groot liefdes in Deon Puren van Despatch se lewe, dan praat jy van ’n bakkie en ’n Boerboel.

Dié boerbul – Lexis – is só groot, dit lyk asof Deon rondry met ’n reuse rots wat die helfte van die kajuit volsit.

Dié dat ’n mens stilhou, kamera uithaal en nader stap. Maar, net voor ek by die Nissan 1400 se neus kom, keer Deon.

“Pasop! Moet asseblief nie voor die bakkie staan nie! Sy het al die voorruit uitgestamp toe iemand daar gaan staan het om na haar te kyk!”

Langs die bakkie is veiliger, beduie Deon my na die kant waar Lexis soos die Rots van Gibraltar sit.

“Dis haar bakkie dié. As ek ry, klim sy op die pasassier-sitplek. Sy hou baie daarvan om saam met my rond te ry. Ons twee is eintlik onaf-skeidbaar.”

Met Lexis in dié gesogte 14-jaar oue Nissan-bakkie – wat in ’n uitmuntende toestand is – dien sy sommer ook die doel van ’n mobiele waghond, aangesien dié bakkies erg ge-sog is onder die ouens met lang vingers.

Die prentjie van Deon, sy blink bakkie en reuse boerboel is ook onweerstaanbaar vir verbygangers.

“Baie mense het al gevra of hulle van haar kan foto’s neem omdat hulle nog nie so ’n groot hond gesien het nie. Veral as ons by ’n verkeers-lig stop, neem veral kinders met hul selfone foto’s van Lexis in die bakkie.”

Lexis staan amper heup-hoogte langs Deon se vrou, Maureen. “Toe ons Lexis in Februarie op die skaal gehad het, het sy 64kg geweeg, maar teen hierdie tyd weeg sy vir seker al baie meer,” sê Maureen.

Sy sê Lexis se dieët bestaan net uit Montego-kosse en -bederfhappies.

“Ons gee haar drie bekers Montego Adult Classic-hondepille en dan skep ons so twee lepels van elk van die twee soorte Montego-souse daarby. Sy kry ook so af en toe Montego-bederfhappies.”

En gaan daar vir Kersfees ook iets vir Lexis onder die boom wees? Maureen lag. “Ons het nog nie by Kersgeskenke uitgekom nie, maar ja . . . daar sal seker vir haar ietsie lekkers te ete wees.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article