DIT is nie aldag wat jou pad kruis met die van ’n 22 jaar oue hond nie – in hondejare 124 jaar oud!

Aine Jonkers met sy Spiky. Foto’s:HEILIE COMBRINCK

Op Uitenhage se Rosedale-woongebied stap dié ou hondjie, Spiky, ’n Jack Russel-kruising, nog flink rond op die erf van Aine en Norma Jonkers, sy mense-ouers.

Was dit nie dat Aine so ’n nutsman was nie, sou Spiky se storie nooit eers bekend geraak het nie. Aine se hande staan vir niks verkeerd nie en hy het baie vaardighede aangeleer in die jare wat hy by Telkom in diens was. Deesdae, as afgetredene, doen hy allerhande bou- en hande-werk en dit was hoe sy pad met nog ’n hondeliefhebber, Marily Solomons, gekruis het.

Hy het haar heining opgeknap sodat haar twee honde, Joey en Snowy, veilig binne kan bly.

“Aine het my vertel van Spiky en ek was dadelik geïntereseerd om te sien hoe so ’n ou hond lyk,” sê Marily.

“Ek was baie verras toe ek sien in hoe ’n goeie toestand Spiky is, hy lyk nog pragtig. Dit is net as hy loop dat jy kan sien hy trap so bietjie snaaks van die ouderdom.”

Aine vertel dat Spiky in September 1998 gebore is en eintlik sy ouers se hondjie was.

“Hulle het Pretoria toe getrek en die bondel-tjie vir ons gegee. Spiky was so klein, hy het in die palm van my vrou se hand gepas.”

Spiky was ’n op-en-wakker ratse hondjie met beslis meer as nege lewens.

“Hy het al baie dinge beleef. Lank gelede het ’n rondloper hond hom byna doodgebyt.

“R2 300 later het ons hom teruggekry en van toe af is hy baie versigtig vir ander honde en bly net by die huis.

“Norma is verskriklik lief vir Spiky en versorg hom baie mooi. Hy is soos familie en ek dink dit is die rede dat die hondjie so oud word.”

Aine Jonkers en Spiky met Marily Solomon, wat nie kon glo dat die hond al 22 jaar oud is nie. INLAS:Spiky, ’n Jack Russel-kruising is 22 jaar oud. In honde jare is dit sowat 124 jaar wat hy agter die blad het.

In die jare wat Aine vir Telkom gewerk het, het hulle heelwat rondgetrek en Spiky was saam. Graaff Reinet toe en later het die Jonkers vir 11 jaar in Pietermaritzburg gebly voordat hulle drie jaar gelede teruggekeer het na Uitenhage.

Spiky is nie meer so op-en-wakker nie, is doof en sy voorste tande het uitgeval, maar hy het nie sy liefde vir koffie en roomys verloor nie.

Oewee … hy like sy koffie met drie teelepels suiker in die oggend. Ek moet elke oggend drie koppies koffie maak. Een vir my, een vir Norma en een vir Spiky.”

Aine sê as Spiky eendag die ewigheid ingaan, sal hulle hom veras en iewers in die tuin vir hom ‘n gedenksteentjie oprig.

Oudste hond ter wêreld

Volgens Guinness World Records is die Australiese beeshond Bluey die oudste hond ooit. Volgens dokumente het hy 29 jaar en vyf maande oud geword.

In die verlede is daar in die algemeen uitgewerk dat ’n hondejaar gelyk is aan sewe mensejare. Maar wetenskaplikes sê aikona, ’n hond se eerste jaar is gelyk aan 15 mensejare; jaar twee is gelyk aan nege mensejare; en die daaropvolgende jare is elk gelyk aan vyf mensejare.

Dus word Spiky se 22 mensejare as volg bereken: 15 + 9 + (20×5) = 124 hondejare.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article