VAN bakboord na stuurboord in ’n see van riool en uiteindelik nê-rens.
Só het Gerrit de Jager, ’n sakeman van Uitenhage gevoel nadat hy vir twee weke by verskeie amptenare van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit, rou stinkende riool – wat deur die Riverside industriële persele vloei – aangemeld het.
Na die aanmeldings het hy navrae hieroor bly doen, maar dit het op niks uitgeloop nie.
“As ek nie R8 000 opgedok het om ’n privaat honeysucker te kry nie, was ons seker nou nog in die gemors,” sê De Jager.
“Die stank was iets afgrysliks. Veral wanneer die temperatuur by 42 grade gaan draai.
Die infrastruktuur is volgens De Jager so aangelê dat die riool van die industriële gebied na ’n sentrale dreineringstenk op die hoek van Magennisstraat en Mel Brookeslaan vloei, vanwaar dit na die rioolwerke gepomp moet word.
“Maar dit lyk vir my die pomp is stukkend. Daarom het die riool begin oorloop.”
Geen sake soos gewoonweg
Buiten dat dié rou riool ’n gesondheids gevaar is, het dit ook beteken dat ’n paar besighede nie hul sake soos gewoonweg kon bedryf nie.
De Jager beduie na die besigheid langs syne. “Hierdie man se werk is buitebande. Hoe moet hy bande omruil as voertuie deur die sowat 10cm diep rou riool moet ry?
“In ’n gebou langsaan is ’n motorwerktuigkundige en langs hom ’n paneelklopper – hoe moet hulle aan voertuie werk wat deur dié gemors moet ry?
“Van die ouens het gesê dat hulle nie huur gaan betaal vir die weke wat hulle nie weens die riool kon werk nie.”
De Jager het op 14 Januarie die riool-krisis by die munisipaliteit se elektriese departement aangemeld, waarna hy terugvoering gekry het dat hulle dit na die inbelsentrum verwys het.
Die volgende dag, toe daar steeds geen munisipale spanne opgedaag het nie, het hy weer die munisipaliteit gebel en is toe verwys na die munisipale krisisbeheersentrum.
Na ses oproepe was De Jager steeds in ’n doodloopstraat.
“Toe bel ek die burgemeester en hy sê toe: ‘This will be done. Leave it to me’. Wel, dae later … en daarvan het ook niks gekom nie.”
De Jager het hom in die daaropvolgende dae gewend tot verskeie politici en sy klagtes het selfs in Kaapstad gedraai.
“Van al die telefoniese beloftes het óók boggerol gekom. Die wyksraads-lid George Miggels het selfs geweier om enigsins verder met my te praat.”
Hierna het De Jager op eie onkonste ’n riooltenkwa gekontrakteer om die riool-dreineringstenk te kom leegsuig.
Nadat dit uiteindelik gedoen is, was die ellende nog nie verby nie, want die rioolopdrifsels, verspreid in ’n dik laag oor ’n wye gebied van die nywerheidsperseel, stink nog verskriklik.
De Jager moes ook verneem dat die munisipaliteit nie chemikalieë het nie om dié rioolslik mee te behandel.
Vir De Jager is die gebrek aan munisipale dienslewering tydens die rioolsorting-krisis, en dat hulle as sakeeienaars aan hul eie lot oorgelaat is, erger as dié stank.
Munisipale terugvoering
Mamela Ndamase, munisipale woordvoerder, het bevestig dat ’n meganiese fout by die Magennisstraat pompstasie die rioolstorting veroorsaak het.
“’n Nuwe pomp is geïnstalleer en die pompstasie werk nou weer ten volle,” sê Ndamase.


