DIE Despatch Posduifklub is vanjaar 70 jaar oud en naas die dorp se rugbyklub is dit die tweede oudste klub op Despatch.
Die klub is in besit van ’n skrywe gedateer 8 September 1951, waarin wyle Mnr. Bouwer, die destydse sekretaris, by die Despatch munisipaliteit vir die lede aansoek gedoen het om duiwehokke op te rig.
In die brief staan onder andere “dat dit klasduiwe is en nie die gewone daksitters is nie.”
Daar was in daardie jare nie lopende water soos vandag deur die munisipaliteit verskaf word nie. Inwoners het van tenkwater, afkomstig van hul huise se dakke, gebruik gemaak.
In die vroeë 1970’s het die voorsitter van die posduifklub, Wynand Deysel, met die Despatch munisipaliteit onderhandel om die vervalle ou slagpale as klubkamer te omskep. Dié gebou is baie mooi gerestoureer.
In die vroeë 1980’s het die ledetal in so ’n mate gegroei dat die lede eiehandig ingespring het om die klubgebou groter te maak. Die klubgebou word ook soms deur die OP Duiwe Unie gebruik om groot vergaderings te hou. Die mure hang vol ou fotos van vroeëre jare se aktiwiteite. Die klubgebou is die trots van die klub. Die Despatch Posduifklub het in die verlede heelwat OP Unie-kampioene opgelewer, waarvan die bekendste Boertjie Nell is.
Die klub het tans ’n ledetal van ongeveer 18. Die uitvoerende bestuur is: voorsitter – Marcelle Els, ondervoorsitter – Malan Ferreira, sekretaris – Twakkies du Toit, wedvlugsekretaris – Dries Marais en tesourier – Hennie le Roux.
Die Despatch Posduifklub bedryf ook ’n Nasionale Duiwehok. Dit is ’n gesamentlike hok waar lede van regoor Suid-Afrika duiwe heen kan stuur. Die duiwe neem aan ses wedvlugte deel en aan die einde van die seisoen word die kampioene aangewys. Daar is tans ongeveer 350 duiwe in die Nasionale Duiwehok.
Enigeeen wat belangstel om duiwe in te skryf of belangstel om by die klub aan te sluit kan Marcelle bel by 082 438 3966. Jy hoef nie noodwendig ’n aktiewe duiweboer te wees nie, maar kan ’n ander duiweboer nader vir duiwe. Die afrigter is Jos Erasmus.
– HENNIE LE ROUX


