Altesaam 14 hokkiespelers van die Hoërskool Brandwag het vir hulself ’n plek oopgespeel in ’n toerspan wat later vanjaar in Nederland gaan hokkie speel.
Brandwag het onlangs met die hulp van Elsie Coetser van die Elsie Coetser Hokkie-skool in Bloemfontein ’n hokkie-kliniek vir die skool se o.16A- en o.18A-spanne aangebied.
Coetser is bygestaan deur Gys van Schalkwyk en Tanya Britz, albei afrigters by die Oranje Meisieskool, ook in Bloemfontein.
Dié afrigters kies na afloop van so ’n twee dae lange kliniek gewoonlik vyf belowende spelers vir ’n Oos-Kaap-skole-span wat beplan om in September na Europa te toer. Coetser-hulle was egter so beïndruk met die hoë standaard van Brandwag se hokkie-spelers dat hulle 14 spelers gekies het.


