Natasha van Tonder alias The Magic Letter Man in aksie in haar graad 1-klas om klankeleer meer opwindend te maak. Foto’s:HEILIE COMBRINCK

Daar’s die A en die B en die groote C en die D en die E en die snaakse F . . . ”

Só is daar dekades gelede gesing om kinders oor letters en klanke te leer. Intussen het COVID-19 gekom en die mens se leefwêreld omgedop. Selfs onderwystegnieke moet vernuwing ondergaan om by die veranderde leefstyl en uitdagings weens die pandemie aan te pas.

“Nou, meer as ooit tevore, is kinders se aandagspan baie kort. Onderwysers móét met nuwe en kreatiewe maniere vorendag kom om die leerproses effektief aan te bied,” sê Madeléne Sachse, skoolhoof van Despatch Voorbereidingskool.

“Klankeleer is fundamenteel vir lees, leer en ontwikkeling en ek was verskriklik opgewonde om te sien hoe een van ons onderwysers, Natasha van Tonder, die kinders se verbeedling vasvang om klanke te leer.

“Sy dink en doen heeltemal uit die boks uit en het die vermoë om met haar unieke leerproses al die sintuie van die kinders in te span, sy prikkel hulle vaardighede en koppel ook die emosionele daaraan. Die kinders onthou die oomblik en so word leer vir hulle ‘n lekker belewing,” sê Sachse.

Natasha van Tonder, graad 1 onderwyser by Despatch Voorbereiding.

Natasha van Tonder as The Magic Letter Man.Foto: VERSKAF

Dit is veral as dit kom by klankeleer, dat dié kreatiewe en energieke onderwyseres transformeer as The Magic Letter Man om elke nuwe klank bekend te stel en die alfabet ’n “onvergeetlike lewe” te gee.

Dit is Natasha van Tonder, graad 1 onderwyser, se derde jaar by Despatch Voorbereidingskool en sy sê die pandemie-regulasies het interaktiewe leerprosesse in die klaskamer ingeperk.

“Daar is byvoorbeeld nie meer mattyd vir stories nie en kinders moet stilsit en gemasker die voorgeskrewe afstand van mekaar hou.

“Ek moes aanpas om die leerproses in die klas energiek en interessant te maak. Veral as dit kom by klankeleer, want kinders sukkel daarmee. Voorheen het ons ’n storie gelees, maar nou stel die Magic Letter Man die klank op ’n unieke wyse aan hulle bekend en hulle onthou dié karakter en assosieer die klank met die storiekarakter.

“Kinders leer deur te sien, voel en hoor en deur die les word dié aspekte ingespan. Hulle sal byvoorbeeld die letter met hul vingers verf en so voel hoe om die letter te vorm.”

Die Magic Letter Man kry die graad 1’s se verbeelding behoorlik op hol en daar word omtrent gesels oor woorde wat met elke nuwe klank begin en hoe om dit in te span. Daar word selfs letters onder die kinders se stoeltjies of tafeltjies geplak, om hul al spelenderwys te leer hoe die letter lyk en hoe dit klink

Van Tonder sê sy hou van uitdagings, beskou die leerproses as ’n intellektuele avontuur en glo dat ’n mens met humor die lewe veel interessanter beleef en daarom hou sy daarvan om haar klaskamer as ’n verhoog in te span. Sy vind die mens se breinwerking fassinerend en dit is haar langtermynvisie om eendag in spesiale onderrig te spesialiseer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article