BENDE-aktiwiteite en dwelmgebruik, veral onder leerders, besoedel ’n gemeenskap en beroof jongmense van hul toekoms.

PrisonDent (Brian Davids). FOTO: HEILIE COMBRINCK

Die leiers by Hoërskool Uitenhage is bekend dat hulle op die voorfront van verandering is en het besluit om hierdie sosiale euwels met woord en daad aan te spreek. Vir die doel het hulle die hulp van Arendsvlei se Fred (Jeffrey Moss) en Hein (Merlin Balie) sowel as die Oos-Kaap se prisonDent (Brian Davids) ingeroep.

“Weens die pandemie het sosiale omstandighede waarin leerders hulle bevind baie verander. Hoërskool Uitenhage en die drie be-kende gesigte wil Vryheidsdag (27 April) met ’n verskil vier en vir die leerders hoop te midde van vele uitdagings en soms ’n onseker toekoms bring,” sê Eddie Coetzee, voorsitter van die Hoërskool Uitenhage se skoolbeheerliggaam.

Arendsvlei is ’n gewilde Afrikaanse-televisiereeks wat die uitdagings van tieners op hoërskool uitbeeld. PrisonDent is die welbekende karakter wat deur Brian Davids van die Korrektiewe Dienste in die Oos-Kaap geskep is, om die die keuses tussen goed en sleg uit te beeld.

“Ons glo dat elke mens ’n keuse het ten opsigte van jou lewe en toekoms. Te midde die moeilike omstandighede waarin almal in ons land leef, moet dae soos Vryheidsdag ons opnuut herinner aan die vorige moeilike tye waardeur landsburgers geseëvier het,” se Coetzee.

Vryheidsdag, 27 April is ’n openbare vakansiedag om die land se eerste demokratiese verkiesing in 1994 te vier sowel as die land se eerste demokratiese president Nelson Mandela, eens ’n wêreldbekende politieke-gevangene.

Merlin Balie. FOTO: VERSKAF

Jeffrey Moss. FOTO: VERSKAF

Die Arendsvleiers en prisonDent sal die verhoog deel met TruthSquad, wat bekend is vir hulle evangelie-klopmusiek en danse.

Hoërskool Uitenhage nooi graag leerders van ander skole in die omgewing om die vertonings (in skooldrag en ’n masker) by te woon. Kaartjies is R20 per leerder en beskikbaar by Hoërskool Uitenhage. Daar sal twee vertonings wees, een om 08:00 en die tweede om 10:45.

Buiten die vertonings, is die Arendsvleiers en prisonDent ook van 26 tot 28 April beskikbaar vir nog motiveringsessies in die gemeenskap.

  • Vir meer inligting bel die skool by 041 992 5020 of die organiseerders op 074 432 6393 of 084 775 0944.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article