Die ou gesegde wat sê trou is nie perdekoop nie, beteken trou is vir hou, dit is ’n ernstige saak.
En wanneer ’n stralende bruid “ja” sê, beweeg jy saam met haar én haar manlief in ’n sprokieswêreld van liefde, tevrede dat hierdie trou sal hou.
Net soos trou, is die koop van ’n voertuig ’n ernstige saak wat by jou leefstyl en behoeftes moet pas én moet hou.
Ook verg albei hierdie gebeurtenisse iets vooraf: voor die ja-woord is dit ’n verhouding, en voor die voertuigkoop is dit ’n toetsrit.
Met dit alles in my agterkop, pak ek die reis na Joubertsdal buite Swellendam aan om die “antwoord” van ewige-trou-wat-hou by die Roux & Venter fees van liefde, met die Langeberg-reeks as allerpragtige skilder-agtergrond, te hoor.
Weliswaar gaan ek nie trou of koop nie, maar by die een is ek getuie en die ander toestbestuur ek Volkswagen se voorloper T6.1 Caravelle 2.0 BiTDI 4MOTION Highline.
Vurige vonk en mooiheid
As jy nou dié Caravelle vergelyk met ’n troumaat, is eerste op die lys die mooi voorkoms en vurige vonk van die aanpasbare leefstylvoertuig.
Die opsie vir twee-kleur Caravelle-bakwerk, soos die wit-en-brons waarmee ons troue toe is, maak dit nog meer van ’n jou-eie-om-op-trots-te-wees.
Dan is daar die vurige vonk van 146kW wat die Caravelle se nuwe 2.0 turbo-aangejaagde dieselenjin uitstoot. Gelaai met vier volwassenes en trou-bagasie, het dié krag met ’n sewe-spoed DSG outomatiese ratwerking, die roete oor berge en dale moeiteloos en in pure rygenot kafgedraf.
Aanpasbaarheid
Nog ’n troumaat-eienskap is aanpasbaarheid. En dit is presies een van die Caravelle se spogeienskappe in die binneruim sowel as die enjinwerking en suspensie.
Die COVID-19-pandemie het kantoorruimtes en raadsale iets van die verlede gemaak. Sake of werk kan byna vanaf enige plek gedoen word. Die Caravelle se luukse sewe leersitplekke met ’n opslaantafel kan gerangskik word na behoefte en die sydeure kan wawyd oopskuif, wat die binneruim in ’n ideale kompakte mobiele-kantoor kan omskep.
Die twee enkelsitplekke (wat ook omgedraai kan word), driesitplekbank en tafel gly op skuifspore en jy kan besluit hoe jy die binneruim wil inrig: vir ’n mobiele-vergadering met slegs twee enkelsitplekke en die tafel; of die driesitplekbank en tafel om jou reisblog of -vlog op datum te hou; of as piekniekruimte.
12 Volt herlaai- en USB-punte vir e-toerusting is gerieflik voor sowel as agter in die binneruim ingerig. ’n Slim tregteragtige herlaaipunt voor in die beheerpaneel is met geen-gly rubber uitgevoer waarin enige selfoon pas.
Aan slimpakplek voor, op, en in die paneelbord is daar nie ’n tekort nie. So-ook in die deure en agterruim.
Boonop bied die info-vermaaktoestel en skerm ellelange opsies om die Caravelle se werkverrigting te monitor; navigasie dop te hou; of met die kristalhelder klank na musiek wat die pad pas, te luister.
Die voordeel van die Caravelle bo ’n huwelik is waar moeilike paaie voorlê, kan die ritmodus verstel word. Moeilikheid in die huwelik vra so bietjie meer as die druk van ’n knoppie.
Vir ’n laatoggend koffiekuier op die plato teen die voet van die Langeberg het die Caravelle sonder moeite die viertrek-pad uitgeklim. Toe reën ons oorval, was die opsie daar om gou die binneruim in te rig en met oop skuifdeure die varsheid van die reën en koffie-aroma diep in te asem.
Gerat vir betroubaarheid
’n Ander troumateriaal-eienskap, betroubaarheid, kan ook maar op die Caravelle-lys getiek word.
Vir die Caravelle bied Volkswagen ’n 3 jaar (120 000km) waarborg en diensplan van 5 jaar (60 000km).
Spesifikasies dui ’n gemiddelde brandstofverbruik van 8.2 liter per 100km, maar vir die reis na die fees van die liefde buite Swellendam en terug, was die gemiddelde brandstofverbruik 9.2 liter per 100km uit die 80 liter tenk.
Die Caravelle se topspoed is aangedui as 198km/h en binne 10.3 sekondes kan jy die naald by 100km/h verbystoot.
Die VW T6.1 Caravelle 2.0 BiTDI 4MOTION Highline (kortas) waarmee ons gery het, gaan jou R1 149 400 uit die sak jaag.


