WAARSKUWING: DIE FOTO KAN SENSITIEWE KYKERS ONTSTEL
In wat die Uitenhage en Distrik (Kariega) DBV beskryf het as een van die ergste en hartseerste gevalle van dieremishandeling wat hulle tot nog toe ervaar het, het die skuldige persoon ‘n vonnis van 12 maande tronkstraf gekry.
Die vonnis is egter vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat die man – ‘n inwoner van Kirkwood in die Oos-Kaap – tydens dié vyf jaar nie weer aan die oortreding van Artikel 2 (1) van die Dierebeskermingswet skuldig bevind word nie.
Op 28 Februarie 2019 is Mariaan Wentzel, inspekteur by die Uitenhage en Distrik DBV, deur die Dierevallei Vriende-groep in Kirkwood gekontak oor ‘n uitgeteerde, ontwaterde Deense hond wat aan ‘n boom vasgeketting is, sonder kos en water. ‘n Lasbrief is bekom en die hond is gekonfiskeer.
‘n Saak is teen die hond se eienaar, Marvin Swartz, gemaak en hy het op 19 Mei vanjaar in die Kirkwood-landdroshof verskyn, waar hy skuldig gepleit het op die aanklag van die oortreding van Artikel 2 (1)(a) van die Dierebeskermingswet 71 van 1962.
Swartz is voorts ook onbevoeg verklaar om enige diere vir ‘n tydperk van vyf jaar te hê en hy is ook beveel om die DBV terug te betaal vir enige kostes wat in dié verband aangegaan is.
Volgens Deidre Swift, vise-voorsitter van die Uitenhage en Distrik DBV, het dié saak hul harte gebreek.
“Ons is nie immuun teen dié soort mishandeling nie. Die gruwels bly ons by.”
Sy het voorts gesê dat die mishandeling van diere in enige vorm onaanvaarbaar en onverskoonbaar is. “In my mening is dit net hartseer dat die straf vir die misdaad altyd onvoldoende blyk te wees, al het ons ‘n positiewe veroordeling gehad.
“Ten spyte van die arme hond se toestand, was sy wil om te lewe so sterk en dit het ons harte gebreek! Ons het hom na ‘n veearts geneem vir behandeling, maar te veel skade was reeds gedoen. Ná drie dae van intense versorging deur die veearts en hoop dat die hond dit sou maak, was sy liggaam eenvoudig net te swak en is hy in sy slaap dood by die veearts,” het Swift gesê.
“Vir wat dit werd is, hy was warm, het kos en skuiling gehad, was nie vasgeketting nie en hy het ‘n bietjie liefde en vriendelikheid vir ‘n kort rukkie ervaar.”



