Regardt van der Merwe van Tafelronde 78 Kirkwood gaan Saterdag sowat 500km deur die Karoo fietsry om geld in te samel vir Anette Esterhuizen wat ’n prostese moet kry nadat haar been geamputeer is. Foto:HEILIE COMBRINCK

’n Lid van die Tafelronde 78 Kirkwood gaan Saterdag die speke oor ’n sirkelroete van nagenoeg 500km deur die Karoo laat sing ten bate van ’n vrou van dié dorp in die Sondagsriviervallei wie se been geamputeer is.

Regardt van der Merwe, lid van die Tafelronde en die man wat só ver gaan trap, sê inwoners van Kirkwood het die Tafelronde om hulp genader omdat Anette Esterhuizen (54) wie se been onder haar knie geamputeer is, werkloos is en nie lid van ’n mediese fonds is nie. Sy is die afgelope jaar en sewe maande aan ’n rolstoel gekluister.

“Ons het navrae gedoen oor pryse en uitgevind ’n prostese, konsultasies en opvolgsessies sal sowat R50 000 kos,” sê Regardt.

Regardt is ’n professionele tennis-afrigter by sy My Tennis Coaching & Sportswear tennis-akademie op Despatch, Kirkwood en Addo.

“Ek pak die fietsry uitdaging aan omdat dit vir my lekker is om iemand te help. Ek is bevoorreg om gesond te wees, en as ek met my fietsryery kan help dat Anette weer kan loop, sal dit great wees.”

Anette Esterhuizen van Kirkwood se been is in November verlede jaar geamputeer en sy moet nou ’n prostese kry. Foto: VERSKAF

Anette sê ’n klippie in haar plakkie het uiteindelik veroorsaak dat sy haar been verloor het.

“Ek is ’n diabeet en het nie gevoel die klippie maak my seer toe ek dorp toe gestap het nie. Weens diabetes het ek gedeeltelik die gevoel in my voete verloor.

“Die seerplek wou nie gesond word nie, en ek het nie dadelik die regte mediese behandeling gekry nie. Dit het net erger en erger ge-raak en op 3 November 2019 is my regterbeen onder die knie afge-sit.”

Haar seun Willem (21) het haar goed bygestaan en gehelp om met ’n loopraam te loop, maar sy tra-giese dood in April 2020 (hy is doodgeskok) het haar weer moed laat verloor.

“Ek het opgehou om met die loopraam te loop en het net in die rolstoel gesit. Dié gesittery het my 10kg laat optel. Toe besluit ek dit kan nie so aangaan nie, ek moet die lewe weer aanpak, maar daarvoor het ek ’n prostese no-dig.”

Woensdag was ’n blye dag vir Anette toe sy haar prostese by Riaan Knight, ortotis en prostetikus in Gqeberha, kon aanpas.

“Ek is baie dankbaar want ons kerk, NG Sondagsriviervallei, het solank R10 000 geskenk en iemand het nog R2 000 gegee. Nou het ek sommer weer nuwe lus vir die lewe. Ek kort nou nog R38 000 om die prostese af te betaal.

Anette sal Saterdag daar wees wanneer Regardt wegtrek.

Sy fietsryroete is 85% grondpad en begin Saterdag skuins na sons-opkoms by Dagbreek Spar en dan vat hy koers na Steytlerville, Willowmore, Jansenville en terug Kirkwood toe. Hy word geborg deur Dagbreek Spar en Symara Knitwear van Despatch en gaan die roete alleen aanpak met mede-Tafelronders wat hom al die pad gaan ondersteun. ’n Paar fietsryers sal gedeeltes van die roete saam met hom trap.

Anette wil ook weer aan die oefen raak. “My plan is om wanneer ek goed aangepas het met die prostese, te stap en die vetjies af te skud wat ek in die rolstoep opgetel het.”

Die publiek kan die projek van Tafelronde 78 Kirkwood ondersteun deur Regardt teen R1/kilometer te borg of enige donasie kan in die diensklub se rekening inbetaal word vir Anette.

  • Die Tafelronde 78 Kirkwood se bankrekening is: KWD Round Table Welfare FNB, rekeningnommer 52 661 709 571, takkode 250 655, verwysing TVP. Vir meer inligting bel Regardt van der Merwe by 074 370 4204.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article