SWANGERSKAPPE het toegeneem tydens die COVID-19 pandemie. Daar is veral ’n skerp styging in krisis-swangerskappe en vir dié vroue en meisies bied die New Life Crisis Pregnancy Centre op Kariega berading en leiding om hulle deur die moeilike tyd te help.

Johanna George, direkteur van New Life Crisis Pregnancy Centre (links) en Lizette Ellis van die UD Express, met van die musse en gebreide beertjies wat vir die sentrum gemaak is as deel van die UD se 50ste bestaansjaarvieringe. Foto:HEILIE COMBRINCK

“Elke vrou is kwesbaar om deur ’n krisis-swangerskap te gaan. ’n Krisis-swangerskap is wanneer daar om een of ander rede geweldige emosionele druk en selfs finansiële druk op ’n mamma is weens haar swangerskap,” verduidelik Johanna George, direkteur van die New Life Crisis Pregnancy Centre by Caledonstraat 130.

“Ons deure staan oop vir ons gemeenskap en enige mamma wat deur ‘n krisisswangerskap gaan moet asseblief na ons toe kom.”

Johanna verduidelik verder dat selfs ’n onbeplande swangerskap ’n krisis kan skep en noem dan nog faktore wat ’nrol kan speel.

“’n Swangerskap van ’n ongetroude vrou of ’n getroude vrou wat op ’n laat stadium swanger raak, ’n swangerskap wat finansieël nie bekostig kan word nie, ’n swangerskap binne ’n destruktiewe verhouding, ’n tienerswangerskap of swangerskap weens seksuele aanranding of verkragting.”

Weens die styging in onbeplande swangerskappe, sê Johanna, kry die sentrum ook baie meer navrae oor aborsies.

“Dit is juis daardie desperate mammas en jong meisies wat ons hier by die sentrum wil help. Weens hulle omstandighede sien hulle geen uitweg nie, maar ons kan hulle berading en leiding gee. Ahoewel daar in Suid-Afrika wettiglik aborsies gedoen word op ongebore babas tot en met 20 weke oud, en alhoewel ons begrip het vir mammas se moeilike omstandighede, is ons gekant teen aborsies,” sê Johanna.

Hoop en help vir mammas

New Life se programme fokus daarop om swanger vroue se emosionele weerbaarheid te versterk; hulle te help om hul vrese oor hul swangerskap te oorkom en om na die fisieke welstand van hulself sowel as die baba om te sien.

“Vir baie mammas is ons programme meer as net berading en hulp, maar ook ‘n gesellige uitkoms om saam te gesels, te lag en die lewe in ‘n positiewe lig te sien. Ons leer hulle ook om speelgoedjies vir hulle babas te maak, want om nie ‘n speelding te kan bekostig nie, is nie te sê jy kan nie speel met jou kind nie. Speel is ‘n baie belangrike deel vir ‘n baba se ontwikkeling,” sê Johanna.

Die sentrum bied voorgeboorteklasse aan en na elke drie programme kry elke mamma ‘n geskenkpak. Hul kry ook ‘n geskenkpak voor hul ingaan vir kraam en na 20 dae word hul versoek om die baba by die sentrum te gaan wys waartydens hulle weer ‘n gepaste geskenkpak ontvang. Die swanger vroue kry punte wanneer hulle programme bywoon en die punte kan hulle inruil vir bababenodighede.

“Die mammas is spesiaal en hulle bly ons kliënte. Hulle kom tydens hulle swangerskappe vir klasse en berading, ons help ook met berading na-geboorte en selfs deur die kind se kleuterjare. New Life se deure is oop vir enige mamma wat raad op enige stadium nodig het,” sê Johanna.

New Life programme

Die sentrum bied ook programme by skole aan vir tieners oor seksuele integriteit. Daar word met hulle gesels oor seksueel oordraagbare siektes, groepsdruk, voorbehoedmiddels, tienerswangerskappe en aborsies.

“Ons gee vir hulle die harde feite, sodat wanneer hulle hulself binne ‘n situasie rondom seks bevind, hulle ingeligte keuses kan maak, “ sê Johanna.

Die sentrum doen ook swangerskaptoetse en gaan binnekort begin met ‘n Legacy Dads program om die belangrikheid van ‘n pa se betrokkenheid by ‘n swangerskap en die grootmaak van ‘n baba en kind aan te wakker.

Hoe kan jy help?

Die sentrum is tans in nood vir bederfprodukte vir mammas en babas, babaklere, babadoeke, babavoeding.

“Weens COVID-19 regulasies kan ons nie ons fondsinsamelings hou nie. Alhoewel ons ‘n geregistreerde welsynsorganisasie is, kry ons geen subsidie van die staat nie,” sê Johanna.

Om hul fondse te sterk, is daar tans lootjies wat teen R20 verkoop word en die trekking van die wenners van die kruideniers-geskenkpakke word op 8 Augustus gedoen. Die eerste prys is ‘n R1 000 koopbewys by Leyyvale Superspar, tweede prys is ‘n OK MiniMarket kos-gekenkpak en die derde prys is ‘n R500 koopbewys vir vleis.

Enigeen wat die sentrum wil ondersteun is welkom om skenkings by die kantoor af te gee of finansiele bydraes kan inbetaal word by: Nedbank Uitenhage, takkode 127716, rekeningnommer 1277 332 797.

  • Die kantoor van New Life Crisis Pregnancy Centre is oop op Woensdae en Donderdae van 09:00 tot 13:00. Vir meer inligting bel die sentrum by 041 991 0217 of 072 688 0560.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article