OM vir amper 24 uur op ’n fietssaal te sit en 502 km kaf te trap deur die Karoo terwyl die temperatuur heeltyd net bo of onder vriespunt draai, vra vir ’n besondere motivering om aan te hou trap.

Regardt van der Merwe (naaslinks) voor sy wegtrek uit Kirkwood saam met (van links), Carlo Botes, Jaco van Biljon, Anette Esterhuizen, Johann van der Vyver, Leo Vermaak, Francois Calitz, Daneel Meiring en Jacques McLachlan. Foto’s:VERSKAF

Die motivering vir Regardt van der Merwe se fietsryery was omdat hy ’n uitdaging van Tafelronde 78 Kirkwood, waarvan hy ’n lid is, aanvaar het om elke kilometer te laat geld inrol vir Anette Esterhuizen. Haar regterbeen is in November geamputeer en sy moet nog R38 000 opdok vir haar kunsbeen.

Teen Dindsdagaandhet Regardt se uitmergelende fietsrit gesorg dat die Tafelronde reeds R26 202 ontvang het.

“Dit was nie maklik nie. Ons het Saterdag 07:30 vanaf Dagbreek Spar op Kirkwood weggespring en so 20km uit die dorp het my GPS -5°C gewys.

“My voete was morsdood en my hande het gevoel asof iemand dit met ‘n hamer ge-slaan het,” sê Regardt.

“Op 200km het dit vir my gevoel of ek wil omdraai en teen middernag was dit so koud dat ek wou ophou, maar dan het ek net gedink aan hoekom ek dit doen en weer moed geskep om aan te hou trap.”

Lize Oosthuizen en Regardt van der Merwe Sondag vroegdag iewers in die Karoo op pad terug na Kirkwood.
Ride

Ride

Regardt en sy ondersteuners het Sondag om 15:30 weer in Kirkwood ingery. Hy het ‘n totaal van 23:48:00 op die saal spandeer en met stoppe ingereken het die uitdaging 32 ure geduur.

Johané Niemann van Kirkwood het ongeveer 300km saam met Regardt gery terwyl sy verloofde, Lize Oosthuizen vir sowat 180km in drie sessies aan sy sy was.

“Op die Baviaanspad, onder die volmaan, kon ek sien die een berg is baie wit.

“Marinus Rautenbach van Tafelronde 108 Algoa was in die ondersteuningsvoertuig en het gesê dit is sneeu.

“Daardie koue sal ek nooit vergeet nie. Ek het nog nooit in my lewe so koud op ‘n fiets gekry nie. Nog iets wat my altyd sal bybly is die ondersteuning, dit was absoluut great gewees, baie dankie aan almal wat saam met my gesuffer het.

“Maar, die beste van die swaarkry is dat ons Anette nou kan help om haar prostese-rekening te betaal.”

Anette was Saterdagoggend by Dagbreek Spar toe Regardt en sy ondersteuners weggetrek het.

Johané Niemann en Regardt van der Merwe op pad terug na Kirkwood.

“Dit was so lekker om haar daar met soveel blydskap en dankbaareid te sien staan op haar prostese,” sê Regardt.

Op haar beurt sê Anette, “Dit is absoluut wonderlik wat Kirkwood se Round Tablers vir my gedoen het.

“Hulle doen baie goeie werk en gee om vir ons dorp se mense.

“Ek het Regardt so jammer gekry dat hy in daardie koue so deur die nag moes ry en dit alles om my te help om weer op die been te kom.

“Maar ek is baie dankbaar, hulle gee my weer nuwe hoop om die lewe aan te pak,” sê Anette.

  • Lede van die publiek wat graag ’n bydrae wil lewer tot Anette se prosteserekening kan inbetalings maak aan: Tafelronde 78 Kirkwood se bankrekening is: KWD Round Table Welfare, FNB rekeningnommer 52 661 709 571, takkode 250 655, verwysing TVP. Vir meer inligting bel Regardt van der Merwe by 074 370 4204.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article