Marlon George in sy Marine Extreme Fishing Tackle & Bait winkel in Johnstraat op Kariega. Foto: HEILIE COMBRINCK

Riviere loop droog, damme raak leeg, visse byt nie meer nie en toe kom die COVID-19 inperkings ook nog. Moet varswaterhengelaars hul visstokke inruil vir ’n ander sport?

“Glad nie!” keer Marlon George, eienaar van Extreme Marine Fishing Tackle & Bait Shop in Johnstraat op Kariega. “Hengel is een van die min sportsoorte wat tydens die inperkings bevoordeel is want baie meer mense het visstokke gekoop. Al was dit net om op die strand te kom.”

Op ’n ernstiger noot sê hy dat varswatersisteme in die Oos-Kaap in ’n ongekende krisis is. “Varswaterhengel neem in wintermaande af omdat die vis minder aktief in die koue is. Maar, dit is die droogte wat ’n groot impak op ons sensitiewe varswaterriviersisteme het. Hoe minder vars water, hoe laer die riviervlakke en hoe minder waterbeweging, hoe minder die suurstof en kos vir die visse en dan raak hulle passief.”

Daarom moes varswaterhengelaars hul fokus vanaf riviere verskuif en hul hengelgerei aanpas vir rots- en strandhengel, hengel by riviermondings en tot ’n mindere mate vir diepseehengel.

“Onthou hengel of visvang soos mense graag na die sport verwys, se ekonomie is groter as rugby en krieket gekombineerd in Suid-Afrika,”voeg Marlon by.

Elke hengelsisteem het sy eie unieke hengelgerei, daarom sal varswatergerei nie werk vir rots- en strandhengel nie; en die laasgenoemde weer glad nie ’n vis kan uittrek in diepseehengel nie.

“Vir diepseehengel het jy buiten ’n boot, ook ’n groter en sterker katrol nodig, ’n korter en dikker visstok, groter sinkers, dikker vislyn, ander hoeke en aas. Onthou, die omstan-dighede op ’n boot is anders, die ruimte is beperk en seevisse is baie sterker as ander visse.

“Vir hengelaars op bote in soutwater-ekosisteme of riviermondings soos by die Gamtoosrivier, Kromrivier en Sondagsrivier, is die hengelgerei die teenoorgestelde as diepseehengel. Kleiner katrolle, langer en dunner visstokke, dunner vislyne, kleiner hoeke, ander aas en sovoort is nodig.”

Bewaar ons natuurbronne

Marlon sê as hy tyd kry om water toe te gaan, verkies hy rots- en strandhengel. Sy kleintyd se hengel saam met sy pa Leslie George het die blywende passie by hom geskep.

“Ek geniet die vryheid van die oop strand, en die uitdaging om die regte hengelplek te kry, die gety reg te lees, strategies sandbanke tot my voordeel te gebruik en om te weet watter omstandighede is gunstig vir watter visse.

“Jy moet kyk of die water reg spoel op die sandbank vir ’n steenbras, of waar die water ’n sloep maak vir ’n kabeljou. Hengel is ’n manier van kyk na natuurelemente wat ander sport-soorte nie raak nie.”

Marlon beklemtoon ook die belangrikheid van hengeletiek. “Elke hengelaar moet verantwoordelik hengel en sy deel doen om ons visbronne te beskerm. Dit geld ook om die strand of waar jy ook al hengel in ’n beter toestand te laat as waarin jy dit gekry het.

“Ons moet teruggee aan ons natuurbronne waaruit ons soveel put. Dit is soos die lewe, dit gaan oor gee en neem om die balans te hou. Jy kan nie net vat nie,” sê Marlon.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article