Sterk rukwinde, reën en ’n paar “ongelukkies” kon nie die begeesterde fietsryer Johan Oosthuizen se dag 200 van sy 365 dae van elke dag 100km fietsry, in die wiele ry nie.
“Teen dié tyd kyk ek nie eens meer na die weer nie. Wat dit ook al oplewer, is deel van die uitdaging en ek trap deur dit,” sê Johan Oosthuizen nadat hy Maandag saam met ander fietsryers ’n 100km roete voltooi het.
Maandag was spesiaal vir Johan omdat dit dag 200 van sy 365 dae uitdaging was, maar ook omdat dit Vrouedag was en sy vrou Ronelle, soos altyd in die ondersteuningsvoertuig al die pad saam met hom was. Die groep het by Wayne Pheiffer Cycles in Somerstrand weggespring en ’n 100km sirkelroete na Vanstadens en Seaview gevolg voordat hul weer by die fietswinkel geëindig het.
Johan bedank al die fietsryers wat saam met hom dag 200 spesiaal gemaak het. “Hulle saamry maak die pad soveel meer gesellig. Daar was ’n paar manne wat so ligweg met die aarde kennis gemaak het. Die pad was glad en hul fietse het gegly, maar gelukkig was dit nie ernstige ongelukkie nie.
“Dankie ook aan my borge wat my op die pad hou en my al die pad ondersteun. Maandag was moeilik, maar dan kyk ek na my fiets en hemp, en sien die kleure en name en dan wéét ek weer hoekom ek die insane goed aanpak.
“Ek sal nie sulke groot projekte aanpak as daar nie ’n rede is om voor te ry nie,” sê Johan.
Sy fietsry-uitdagings is deel van die nie-winsgewende organisasie Fuel on Wheels se projekte om fondse in te samel vir kospakkies sowel as vir kankerpasiënte.
Wanneer hy sy 365 dae se 100km per dag kafgetrap het en dus 36 500km voltooi het, is Johan slegs 3 575km van ’n moontlike volgende uitdaging af. Dit sal wees om sy fiets se kilometerlesing op 40 075km te kry. Wat beteken dié afstand? Dit is die afstand reg om die wêreld.



