“WONDERWERKE gebeur nog en daar is nog engele hier tussen ons.”

Dit is die woorde van ’n oorweldigde Anette Esterhuizen van Kirkwood nadat R38 000 binne weke ingesamel is vir haar prostesebeen – dít danksy die manne van Tafelronde 78 Kirkwood wat saam met hul gemeenskap en ‘n langasemfietsryer geld hiervoor help insamel het.

Manne van Tafelronde 78 Kirkwood (van links) Johan Bruwer en Louis de Bruin met fietsryer Regardt van der Merwe en Anette Esterhuizen, Johann van der Vyver, Daneel Meiring en Ryno Lombard (Tafelronde 78 Kirkwood voorsitter). Foto:VERSKAF

“Ek kan nie glo dat daar nog soveel goeie mense op aarde is wat ander help nie. Hierdie manne het my weer nuwe hoop gegee en ek sal almal wat bygedra het, ewig dankbaar bly dat ek weer kan loop,” sê Anette.

Langasemfietsryer Regardt van der Merwe, ook ‘n lid van Tafelronde 78 Kirkwood, het 502 km in bitter koue weersomstandighede saam met ‘n paar ondersteuners en fietsryers gery om geld te laat inrol vir Anette.

Anette, ‘n diabeet, se regterbeen is in November 2019 geamputeer.

Die koste vir ‘n prostesebeen – R38 000 – was bo haar vuurmaakplek.

‘n Oorstelpte Anette sê sy haal “haar hoed vir hulle af omdat hulle so dapper was om die koue vir my te trotseer. Ek waardeer dit ongelooflik wat hulle vir my gedoen het.”

Ryno Lombard, voorsitter van Tafelronde 78 Kirkwood sê: “Ons is almal baie trots op die projek om Anette te kon help en veral op Regardt wat die roete voltooi het. Hy het ons almal se ondersteuning daarvoor gehad.

Kirkwood

Regardt van der Merwe (links) en ondersteuners op pad in die Karoo om die sowat 500km sirkelroete binne 24 uur kaf te trap. Foto: VERSKAF

“Daar is nog ’n paar projekte vir die jaar en eerskomende Vrydag hou ons ’n Burgerbraai by die Kirkwood Gholfklub om fondse in te samel om dié projekte moontlik te kan maak.”

Alhoewel Regardt van der Merwe al ’n vorige keer ook die langpad deurnag aangepak het vir liefdadigheid, het hy dit nog nooit in sulke uitdagende weersomstandighede gedoen nie.

Hy het die afstand van 502km onder 24 uur voltooi met die temperatuur wat die heeltyd net bo of onder vriespunt gedraai het.

“Dit was baie tough. Sonder die ondersteuning van die mense wat saam met my fietsgery het en almal wat langs die pad my weer moed gegee het, sou ek dit nie kon doen nie,” sê Regardt.

“Maar om Anette se vreugde te kon beleef toe ons vir haar die volle bedrag gegee het, maak al die suffer die moeite werd.”

Burgerbraai op Kirkwood

Tafelronde 78 Kirkwood vier vanjaar hul 60e bestaansjaar. As deel van hul aktiwiteite word ’n 4×4 roete deur die Zuurberge vir September beplan en ’n gesellige Sitrusopskop in ’n skuur gedurende Oktober.

  • Om bestellings te plaas vir die Tafelronde 78 Kirkwood se Burger-braai wat Vrydag by die dorp se gholfklub gehou word kan Ryno Lombard gebel word by 084 569 5291.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article